Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Solidariteit: Slegs die regte mense en kennis sal Denel PMP-belegging laat slaag
Solidariteit verwelkom Denel se besluit om beleggers uit te nooi om sy ammunisievervaardigingsafdeling te versterk.
Solidariteit waarsku egter dat geen belegging of vennootskap suksesvol sal wees sonder die nodige kennis en vaardighede nie, en dié kan slegs behou en uitgebou word indien die regte mense aan boord is.
Solidariteit meen die gesprek oor die toekoms van Denel Pretoria Metal Pressings (PMP) moet hierdie noodsaaklike vereiste deurgaans in ag neem. Derek Mans, Solidariteit se koördineerder vir verdediging en lugvaart, brei verder hieroor uit in sy meningsartikel, “Everyone Has a Plan for PMP. But WHO Is Going to Make It Work?”, wat aan mediahuise vir publikasie versprei is.
Mans beklemtoon dat kapitaalbelegging alleen nie Suid-Afrika se strategiese vermoë om verdedigingsprodukte te vervaardig sal herstel nie.
“Ons het jare lank oor eienaarskap gedebatteer, en nou debatteer ons oor belegging. Albei is belangrik, maar nie een van die twee is die kern van die probleem nie. Die vraag is of die regte omstandighede bestaan om enige herstelplan te laat werk,” sê Mans.
Volgens Mans verwelkom Solidariteit Denel se besluit om strategiese vennote te betrek en ondersteun openbare-private vennootskappe wat produksie, uitvoervermoë en Suid-Afrika se strategiese verdedigingsbedryf kan versterk.
“Maar sonder die regte mense, kennis en bestuur wat die onderneming moet dra, is daar geen waarborg dat Denel nie verder agteruitgaan sak nie.
“Dit is omdat dit nie masjiene is wat ammunisie vervaardig nie, maar mense. Wanneer ervare vakmanne, ingenieurs, tegnici en operateurs die onderneming verlaat, verloor PMP kundigheid wat nie eenvoudig met geld teruggekoop kan word nie.
“Dít is ʼn werklikheid wat Denel as ʼn saak van dringendheid moet trotseer,” sê Mans.
Volgens Solidariteit behoort enige herstelplan verder as die gietery alleen te strek en uiteindelik die hele PMP-bedryf as ʼn geïntegreerde vervaardigingstelsel te versterk.
Dit is omdat produksie, instandhouding, gehaltebeheer, logistiek en gespesialiseerde vaardighede nie in afsondering funksioneer nie.
Mans verduidelik dat wanneer een skakel verswak, die hele vervaardigingsketting daaronder ly.
Solidariteit meen verder dat kritieke arbeidskwessies nie as gewone mensehulpbron-aangeleenthede afgemaak kan word nie.
“Salarisstabiliteit, billike posgradering, loopbaanontwikkeling en die behoud van skaars vaardighede is nie bloot werknemersake nie. Dit is voorwaardes vir sukses. Elke werknemer wat vertrek, neem jare se institusionele kennis saam,” sê Mans.
Volgens hom behoort elke voorstel vir PMP se toekoms aan vyf praktiese maatstawwe gemeet te word: stabiele vergoeding, die behoud van kritieke vaardighede, veilige produksie, goeie korporatiewe bestuur en aanspreeklikheid, asook duidelike en meetbare implementeringsmylpale.
“Hierdie is nie struikelblokke vir belegging nie. Dit is juis die faktore wat bepaal of ʼn belegging uiteindelik suksesvol gaan wees. Suid-Afrika het nou ʼn geleentheid om verder as nóg ʼn reddingsplan op papier te beweeg.
“Die gesprek behoort nie langer net te handel oor wie in PMP gaan belê nie. Dit behoort te gaan oor wat nodig is om daardie belegging te laat slaag. Sonder die regte mense, die regte bestuur en die regte uitvoering gaan geen belegger alleen PMP red nie,” sê Mans.