loading
avatar
Artikels
5 uur gelede
solidariteit-wen-aftreebeleid-saak-vir-lid-teen-werkgewer

Foto Krediet: Verskaf.

Solidariteit wen aftreebeleid-saak vir lid teen werkgewer

Deur Robin-Lee Maré

Toe Buffalo Coal Dundee besluit het dat George Marais moet aftree, was daar volgens die destydse aftreebeleid én gesprekke tussen die partye een belangrike voorwaarde: hy sou drie maande se bykomende vergoeding ontvang.

Toe die tyd egter aanbreek, het dié vergoeding spoorloos verdwyn.

Die arbeidshof in Durban het onlangs beslis dat Buffalo Coal steeds verplig was om die bedrag te betaal, ondanks ʼn latere wysiging aan sy aftreebeleid.

Volgens Karolien van Wyk, arbeidshoflitigant verbonde aan Solidariteit, bevestig die uitspraak ʼn belangrike beginsel van die arbeidsreg.

“Werkgewers kan nie bloot hul beleide wysig om onder bestaande verpligtinge uit te kom nie. Wanneer ʼn ooreenkoms bereik word, is beide partye daaraan gebonde,” sê Van Wyk.

Regter K. Allen-Yaman het ten gunste van Solidariteit en sy lid, George Marais, beslis nadat Buffalo Coal gepoog het om ʼn bestaande ooreenkoms te ontduik. Die hof het bevind dat die onderneming verplig was om die ooreengekome drie maande se vergoeding te betaal, ondanks ʼn latere wysiging aan sy aftreebeleid.

Marais was sedert 2014 as finansiële bestuurder by Buffalo Coal in diens. Nadat hy die onderneming se normale aftreeouderdom bereik het, het die werkgewer hom versoek om langer aan diens te bly. Hy het ingestem en sy diens is verleng ingevolge die aftreebeleid wat destyds gegeld het.

In September 2022 het die onderneming besluit om die aftreebeleid op werknemers ouer as 65 jaar toe te pas. Tydens gesprekke oor Marais se aftrede is daar ooreengekom dat hy die voordele sou ontvang waarvoor die destydse beleid voorsiening gemaak het, insluitend drie maande se bykomende vergoeding. Op grond daarvan het hy ingestem om aan die einde van Oktober 2022 af te tree.

Kort daarna het die werkgewer egter die aftreebeleid gewysig. Die klousule wat vir die betaling van drie maande se vergoeding voorsiening gemaak het, is geskrap. Marais was onbewus van dié verandering.

Toe sy finale salaris betaal is, was die drie maande se vergoeding nêrens te vinde nie.

Solidariteit het daarna namens Marais hof toe gegaan om die ooreenkoms af te dwing.

Die hof het bevind dat daar op 30 September 2022 ʼn bindende ooreenkoms tussen die partye tot stand gekom het. Die latere wysiging van die aftreebeleid het geen invloed op dié ooreenkoms gehad nie. Regter Allen-Yaman het verder bevind dat Marais se getuienis geloofwaardig en onbetwis was, aangesien Buffalo Coal geen getuies geroep het om sy weergawe te ondersteun nie.

Die hof het Buffalo Coal gelas om R475 744,14 aan Marais te betaal, tesame met rente vanaf 1 November 2022 totdat die bedrag ten volle vereffen is.

“Hierdie uitspraak stuur ʼn belangrike boodskap aan werkgewers. ʼn Beleidsverandering vee nie bestaande regte en verpligtinge uit nie. Indien ʼn werkgewer ʼn bestaande ooreenkoms wil verander, vereis dit die werknemer se toestemming,” sê Van Wyk.

Volgens haar dien die uitspraak as ʼn waarskuwing teen pogings om kontraktuele verpligtinge deur administratiewe maneuvers te probeer ontduik.

“Werkgewers kan nie beleide wysig met die hoop om ooreengekome verpligtinge te omseil nie. Die arbeidshof het weer bevestig dat geldige ooreenkomste afdwingbaar is en beskerming aan werknemers bied wanneer hul regte geskend word,” voeg Van Wyk by.

Vir Marais het die uitspraak ná jare van regsprosesse uiteindelik geregtigheid gebring. Vir ander werknemers dien dit as ʼn belangrike herinnering: ʼn werkgewer kan nie ʼn bestaande ooreenkoms ontduik bloot deur sy beleid later te wysig nie.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel