Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Solidariteit eis dringende betaling van uitstaande skooltoelaes in Gauteng
Die Solidariteit Onderwysernetwerk het ʼn skrywe aan die Gautengse LUR vir Onderwys, Sport, Kuns, Kultuur en Ontspanning, Lebogang Maile, sowel as die hoof van die Gautengse Departement van Onderwys gerig oor die departement se versuim om verskuldigde skooltoelaes betyds en ten volle aan openbare skole te betaal. Lees die brief hier.
Volgens Solidariteit is die niebetaling van skooltoelaes veel meer as bloot ʼn administratiewe tekortkoming. Dit plaas skole se daaglikse funksionering, onderwysers se werkomstandighede en leerders se gehalte van onderrig onder ernstige druk.
“Onderwysers werk reeds onder geweldige druk weens oorvol klaskamers, toenemende administratiewe eise, gedragsuitdagings en emosionele spanning. Wanneer skole boonop nie die finansiering ontvang waarop hulle geregtig is nie, word onderwysers gedwing om nóg meer met nóg minder te doen,” sê Johan Botha, hoof van Solidariteit se Onderwysernetwerk.
Ingevolge artikel 34(1) van die Suid-Afrikaanse Skolewet rus daar ʼn wetlike verpligting op die staat om openbare skole op ʼn billike grondslag uit openbare inkomste te finansier. Hoewel beheerliggame redelike stappe mag doen om skole se hulpbronne aan te vul, kan hierdie aanvullende rol nooit die departement se primêre verantwoordelikheid vervang nie.
Die gebrek aan tydige finansiering plaas onder meer kontrakposte en ondersteuningspersoneel in gedrang, verswak akademiese en administratiewe ondersteuning en beperk skole se vermoë om noodsaaklike leer- en onderrigmateriaal aan te koop. Skole sukkel ook om instandhouding, munisipale rekeninge en ander basiese bedryfskoste met sekerheid te bestuur.
“Die rekening vir die departement se versuim beland uiteindelik in die klaskamer. Onderwysers moet steeds stabiliteit, dissipline en akademiese vordering handhaaf, selfs wanneer die strukture en hulpbronne waarop ʼn funksionele skoolstelsel behoort te steun, begin verbrokkel,” sê Botha.
Volgens Botha hou die situasie ook ernstige gevolge vir alle personeel in. Baie skole stel bykomende personeel aan wat uit hul eie hulpbronne of begrotings gefinansier word. Sonder die nodige skooltoelaes word die behoud van hierdie personeel toenemend onseker.
“Skole kan nie verantwoordelik beplan, kontrakte bestuur of personeel volhoubaar vergoed indien die departement nie sy finansiële en wetlike verpligtinge betyds nakom nie. Hierdie onsekerheid ontwrig personeelbeplanning, plaas werknemers in ʼn kwesbare posisie en bedreig die voortsetting van gehalteonderrig,” sê Botha.
Solidariteit se Onderwysernetwerk eis onder meer die onmiddellike betaling van alle uitstaande skooltoelaes aan die geraakte skole. Die departement moet teen 17 Julie 2026 skriftelik bevestig wanneer die uitstaande betalings gemaak sal word en uiteensit watter stappe ingestel sal word om verdere vertragings te voorkom.
“Leerders het ʼn grondwetlike reg op basiese onderwys. Hierdie reg kom in gedrang wanneer die staat versuim om skole behoorlik te finansier en sodoende die gehalte en volhoubaarheid van onderrig ondermyn. Onderwysers kan nie aanhou om die las van ʼn stelsel te dra wat skole finansieel in die steek laat nie,” sluit Botha af.