Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Solidariteit begin met regsaksie teen Tshwane oor Mettler se skorsing
Solidariteit het die Stad Tshwane formeel aangemaan oor sy besluit om Johann Mettler, ʼn Solidariteit-lid, die metro se stadsbestuurder en rekenpligtige beampte, op voorsorgskorsing te plaas. Lees die aanmaning hier.
Mettler is op 27 Junie deur die stadsraad in kennis gestel van bewerings teen hom en het sewe dae gekry om daarop te reageer. Solidariteit het op 4 Julie namens hom ʼn omvattende regsreaksie van 18 bladsye ingedien. Ondanks dié reaksie het die metro op 9 Julie aangekondig dat die raad besluit het om Mettler hangende ʼn onafhanklike ondersoek op voorsorgskorsing te plaas.
Volgens Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, is die proses gebrekkig en toon dit al die kenmerke van ʼn politieke heksejag.
“Solidariteit gaan nie toelaat dat iemand wat vir die integriteit van die Stad Tshwane opstaan, deur ʼn politieke heksejag geboelie word nie. Ons is van mening dat die metro se optrede onwettig, irrasioneel en ongrondwetlik is. Indien die metro met hierdie optrede voortgaan, sal daar regsgevolge wees,” sê Van der Bijl.
Van der Bijl wys daarop dat Solidariteit herhaaldelik versoek het om behoorlik by die proses betrek te word en van die nodige inligting voorsien te word, maar dat dié versoeke geïgnoreer is.
“Die stad verdien regverdigheid en verantwoordbaarheid. Ons oorweeg dringende hofoptrede en het die metro daarom formeel aangemaan om sy onregmatige optrede te staak,” sluit Van der Bijl af.