Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
1 dag gelede
solidariteit-regerin-probeer-rugby-kaap

Foto Krediet: Pexels

Solidariteit: Regering probeer rugby kaap

Solidariteit veroordeel die aankondiging deur minister Parks Tau om die komende Rugby’s Greatest Rivalry 2026-toer as ʼn beskermde gebeurtenis te verklaar. Hierdie besluit is ʼn blatante magsvergryp wat die deur oopmaak vir groter staatsbeheer oor privaat sportgeleenthede. Dit verhoog ook kostes en beperk organiseerders se vryheid van keuse. Sien die kennisgewing in die Staatskoerant hier.

Solidariteit se regspan is reeds besig om kommentaar op die voorgestelde regulasies in te dien en sal die maatreëls op alle beskikbare regsgronde teenstaan.

Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), behoort die regering nie hierdie geleentheid te gebruik om omstrede verkrygingsvereistes op privaat organisasies af te dwing nie.

“Ons grootste kommer is die poging om SEB-regulasies en verkrygingsvereistes op die organiseerders van die All Black-toer af te dwing. Solidariteit betwis reeds die Wet op Openbare Verkryging in die hof. Om hierdie vereistes op onafhanklike geleenthede af te dwing terwyl die Wet steeds betwis word, maak glad nie sin nie,” sê Du Buisson.

Volgens Du Buisson kom die besluit neer op die staat wat ʼn rugbytoer vir eie gewin kan kaap.

“Waar laat hierdie besluit ondernemings wat reeds kontrakte vir ondersteunerstruie, bemarking en ander produkte gesluit het? Indien die wet tot sy uiterste toegepas word, sal slegs ondernemings in 100% swart besit die reg hê om Springbok-ondersteunerstruie te vervaardig of te verkoop. So ʼn uitkoms is eenvoudig absurd.”

Solidariteit waarsku ook teen die gevaarlike presedent wat hiermee geskep word.

“Sodra ʼn minister enigiets as in die ‘openbare belang’ kan verklaar en dit vervolgens aan staatsverkrygingsvereistes onderwerp, is daar feitlik geen beperking op staatsinmenging nie. Vandag is dit rugby. Môre kan dieselfde beginsel op talle ander privaat geleenthede toegepas word.”

Du Buisson wys verder daarop dat die voorgestelde vereistes bykomende administratiewe laste en kostes op organiseerders plaas.

“Verpligte impakverslae aan die minister en ander regulatoriese vereistes verhoog die koste om groot geleenthede aan te bied. Suid-Afrika behoort internasionale sport- en kultuurgeleenthede aan te moedig, nie dit afskrik deur oormatige staatsbeheer nie.”

Solidariteit sal voortgaan om hierdie regulasies teen te staan en die beginsel te verdedig dat privaat geleenthede nie deur die staat gekaap behoort te word vir politieke of ideologiese doeleindes nie. Ons hofsaak teen die Wet op Openbare Verkryging duur voort in die Konstitusionele Hof.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel