Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Kaapse musikant se ontbering en uitkoms ná hy sy been in ongeluk verloor
Pieter Jordaan en Robin-Lee Maré
Hulle het altyd gesê hy klink so ʼn bietjie soos Chris Rea wanneer hy sing.
“Maar eintlik sing ek graag enigiets wat die mense wil hoor: rock, pop, country … ook boeremusiek,” vertel Nico Langeveldt op ʼn reënerige oggend nie ver weg van sy huis in Brackenfell in die Kaap nie.
Jy kan sien die musikale genre maak nou, na alles, eintlik nie veel aan hom saak nie.
Dis die feit dat hy nog kán musiek maak en liedjies skryf wat tel.
“Ja, ek sít maar so terwyl ek kitaar speel en sing, maar ek kan darem nou weer speel,” sê die 68-jarige Nico en gee ʼn half verleë glimlag wanneer hy afkyk na die prostese aan sy regterbeen.
Op 7 November 2022 het Nico en sy geliefde Francine se lewens onherroeplik verander.
Om 09:40 daardie oggend, terwyl Francine, ook ʼn musikant, op kantoor by haar werk was, het Nico se baas se vrou van die maatskappy waar hy gewerk het as ʼn vragmotorbestuurer, vir haar met die skoknuus gebel.
Nico was in ʼn ernstige ongeluk onderweg van die Kaapse Skiereiland na die Paarl betrokke.
Hy het hierdie beroep reeds 10 jaar lank beoefen en dit geniet ook.
“Die oop pad het vir hom ’n gevoel van vryheid gegee,” vertel hy, en Francine noem dan hoe sy foto’s van Nico sou ontvang van al die mooi plekke wat hy danksy die ryery kon besoek.
Daardie noodlottige November-oggend moes eintlik ook so een gewees het.
“Dit was ʼn heel gewone dag,” onthou Nico dit. “Van die laaste wat ek onthou is hoe ek agter die stuur was en meteens nie baie lekker gevoel het nie. Ek besluit toe om van die pad te trek sodat ek ʼn koeldrank of iets by ʼn padstal, wat slegs meters vorentoe was, kan gaan koop.
“Die laaste wat ek onthou was toe ek besef ek is pas by die ingang na die padstal se parkeerterrein verby. En toe….niks.”
Net daar is Nico se viertonvragmotor hard van agter teen ʼn aansienlik groter een vas. Dié het stil voor hom by ʼn verkeerslig gestaan en wag. Aangesien Nico se stuurkajuit ietwat laer as die stilstaande vragmotor se opgeslane voertuigvervoerder was, is hy saam met staal en glas onder die vragmotor in.

Sy regterbeen is saam met verfrommelde wrakstukke vergruis.
ʼn Dokter by ʼn hospitaal in Stellenbosch het vir Francine vertel van die geweldige skade aan weefsel, spiere en senings. Foto’s wat Francine op die tafel neersit beaam dit.
En toe die dokter se woorde: Nico se been moet geamputeer word. Francine kon haar eenvoudig nie indink hoe hierdie lewenslustige man so sal kan voortleef nie.
Sy ken mos vir Nico – die een met die diep rokerige stem uit wie lewe juis straal wanneer hy, kitaarband om die skouer, voor die mikrofoon staan.
Daardie lewe was vir ʼn oomblik nou in die weegskaal. Nico het groot hoeveelhede bloed verloor en moes in die intensiewesorgeenheid gestabiliseer word. Vyf weke lank het hy in die hospitaal gelê. Sommer in hierdie dae reeds het Francine geleer hoe om wonde skoon te maak – haar voorbereiding vir uitdagings van ’n nuwe werklikheid saam.

Ongelukkig vir hierdie musikantpaar was dit nie ál uitdagings op hulle pad nie.
Die volgende maande sou soos ʼn uitgerekte en sombere tussenspel wees. Dit sou lank duur voor die son weer vir hulle sou skyn.
Nico was in ʼn kort tydperk van amper vyf weke altesaam vier keer in die teater onder die mes.
Benewens dié trauma was daar met Nico, nou ongeskik vir werk, ontsettende groot spanning oor veral finansies en die daaglikse oproepe van dokters en verskeie verskaffers.
Die mediese onkoste was iets geweldig en boonop het die vergoedingsfonds vir aandiensbeserings, ná ʼn vlugtige besoek aan Nico, sy eis om ongeskiktheid onverklaarbaar afgekeur.
Daar was e-posse, oproepe, navrae en die een vorm ná die ander.
Hulle het in werklikheid spesialishulp benodig.
Francine, met haar sonskynpersoonlikheid, erken hulle was met tye neerslagtig.
“Ek wil amper vir julle sê dat die proses rondom hierdie eis uiteindelik erger was as die verlies van die been.
“Jy voel magteloos wanneer hulle dit eenvoudig net so afkeur. Hulle het beweer dat hy floute gekry het en dat dit nie as ʼn aandiensbesering beskou word nie.
“Almal met wie ek gepraat het, het saamgestem dat dit totaal onregverdig is, maar niemand kon my daarmee help nie,” vertel sy.
Met onbetaalbare rekeninge wat aanhou ophoop, en Nico op ʼn swaar herstelpad waartydens hy slegs stadig en met behulp van ʼn loopraam kon beweeg, het weke se frustrasie in maande se wroeging verander.
Dit is toe dat Francine, na die soveelste doodloopstraat, ʼn artikel van Solidariteit raaklees waarin die proses van aandiensbeseringseise bespreek word. Hierdie was die deurbraak wat hulle benodig het.
Francine tref jou buitendien as iemand wat, hoewel vriendelik, vir geen duiwel sal stuit as sy eers so besluit het nie. Dit was immers sý wat, ten tyde van die onsekerheid rondom die ongeskiktheidseis, ʼn musiekkonsert naby Milnerton ten bate van Nico gereël het om ʼn prostese vir sy been te kon bekostig.

Sy, Nico en ander plaaslike musikante, het daar opgetree en nagenoeg 600 mense het opgedaag om haar te ondersteun. Hulle kon sodoende genoeg fondse insamel sodat hy sy eerste prostese kon bekom.

Toe Francine in gesprek tree met Sonja van Heerden, kantoorbestuurder by Solidariteit se beroepsgesondheid-en veiligheid afdeling, het die nagmerrie in ʼn simfonie verander.
Volgens Sonja het die vergoedingsfonds die eis aanvanklik afgekeur nadat amptenare Nico kort ná die ongeluk in die hospitaal besoek het omdat hy geen herinnering gehad het van wat gebeur het nie.
“Die versekeraar se standpunt was dat die ongeluk nie in die loop van Nico se diens plaasgevind het nie omdat hy volgens hulle vermoedelik flou geword het voordat die botsing gebeur het. Ons het egter nie saamgestem met dié interpretasie van die Wet nie,” sê Sonja.

Sy verduidelik hoe Solidariteit ’n formele hersieningsversoek ingedien het en die bepalings en oogmerk van die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes (No. 130 van 1993) onder die vergoedingsfonds se aandag gebring het.
“Die Wet maak dit duidelik. ’n Werknemer kan geregtig wees op vergoeding wanneer ’n ongeluk uit sy diens ontstaan en in die loop daarvan plaasvind. Selfs waar daar buitengewone omstandighede bestaan, moet die feite en die doel van die werknemer se optrede behoorlik oorweeg word. Nico was besig met sy normale werkspligte toe die ongeluk gebeur het,” verduidelik Sonja.
Die wet maak voorsiening vir “no fault” vergoeding self al sou dit wees dat Nico floute gekry het. Ná verdere vertoë en voorlegging deur Solidariteit het die vergoedingsfonds uiteindelik aanspreeklikheid vir die besering aan diens aanvaar.
“Daardie beslissing het die deur oopgemaak vir Nico se ongeskiktheidspensioen asook die befondsing van sy prostese. Dit was ’n belangrike oorwinning wat vir hom en Francine broodnodige verligting gebring het,” sê Sonja.
Na Francine se kontak met Solidariteit het sy gesê, “Daar was net hierdie kalmte. Sonja het vir my gesê om net rustig te wees. Sy sal dit vir ons uitsorteer.”
“Ons was net so verlig. Dit was ʼn berg van ons skouers af. Uiteindelik was hier iemand wat namens ons kan veg. Mense wat die Wet ken. Solidariteit het belowe om hulle bes te doen vir ons, en hulle hét. Ons is hulle ewig dankbaar.
“Die gerusstelling dat alles oukei gaan wees na soveel maande se onsekerheid en bekommernisse, was net wat ons nodig gehad het om ons lewens so normaal as moontlik weer te hervat,” vertel Francine met ʼn glimlag, en ʼn traan.

Na onderhandeling met die vergoedingsfonds het Solidariteit toegesien dat Nico Langeveldt ʼn maandelikse ongeskiktheidspensioen ontvang het asook begrafnisdekking. Die vergoedingsfonds het ook die koste van Nico se eerste prostese, wat nagenoeg R56 000 was uitbetaal, en het later na Solidariteit se versoek die kostes vir ʼn nuwe prostese van ongeveer R200 000 gedek. Solidariteit het ook toegesien dat die vergoedingsfonds al Nico se redelike mediese onkostes van die ongeluk gedek het.
“Hy klim nou al trappe op en af,” lag Francine. “Ons is dankbaar teenoor God vir waar ons nou is. Solidariteit was vir seker deur Hom op ons pad gestuur. Op ons eie sou ons nooit suksesvol hiermee kon wees nie.”
Nico kon selfs weer genoeg moed skep om agter die stuur van ʼn outomatiese motor in te klim. En alhoewel sy dae van veeleisende werk getel is, is daar, hoewel ietwat stadiger as voorheen, weer ʼn huppel in sy stap en vreugde in sy lewe.

En musiekoptredes?
“Wel, ons tree nie meer soveel soos vroeërjare op nie. Maar ons maak nog musiek. Ons kán nog musiek maak,” sê Nico, en kyk met waardering na Francine langs hom, waar sy deur dit alles by hom bly staan het.