Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
De Beers en ander moet proaktief ingryp om mynbou-werkverliese te voorkom
Solidariteit is diep bekommerd oor die voorgestelde tydelike staking van produksie by De Beers se Venetia-myn naby Musina en die moontlike verlies van meer as 1 100 poste by die myn as deel van ʼn breër proses wat selfs meer werknemers kan raak.
Volgens Willie Venter, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris, is Venetia een van die grootste werkgewers in die Musina-omgewing en sal selfs ʼn beplande tydelike sluiting ʼn beduidende ekonomiese impak op die plaaslike gemeenskap hê.
“Musina het beperkte alternatiewe werksgeleenthede beskikbaar. Buiten landbou- en logistieke bedrywighede wat met oorgrensvervoer verband hou, is daar min ander werk vir werkers met mynbouvaardighede.
“Wanneer meer as ʼn duisend mense skielik hul inkomste verloor, raak dit nie net die werknemers nie, maar ook honderde ondernemings en gesinne wat van daardie ekonomiese aktiwiteit afhanklik is,” sê Venter.
Solidariteit wys daarop dat Venetia nie ʼn alleenstaande geval is nie. Vroeër vanjaar het Petra Diamonds sakeredding by die Finch-myn en afleggings by die Cullinan-myn aangekondig.
Die diamantbedryf verkeer reeds ʼn geruime tyd lank onder druk weens ʼn afname in die wêreldvraag na natuurlike diamante, ekonomiese onsekerheid en die toenemende beskikbaarheid van goedkoper sintetiese diamante.
Venter sê hierdie uitdagings het egter nie oornag ontstaan nie.
“Dit is tendense wat oor maande en selfs jare ontwikkel het. Daarom is dit kommerwekkend wanneer werkgewers hul werknemers en gemeenskappe op betreklik kort kennisgewing met sulke ingrypende aankondigings konfronteer,” sê hy.
Volgens hom het Suid-Afrika dringend ʼn meer proaktiewe proses nodig om grootskaalse werkverliese in die mynbedryf aan te spreek.
“Wanneer dit duidelik raak dat ʼn myn of ʼn ander groot werkgewer ernstige ekonomiese druk ervaar, behoort daar ʼn verwagting te wees dat vroeë konsultasie met vakbonde, die regering en ander belanghebbendes sal plaasvind.
“Teen die tyd dat ʼn artikel 189-proses begin, is die ruimte om kreatiewe alternatiewe te ondersoek dikwels reeds baie beperk,” verduidelik Venter.
Vroeër gesprekke kan volgens hom geleenthede skep om alternatiewe soos heropleiding, herontplooiing of tydelike indiensneming van geaffekteerde werknemers te ondersoek voordat grootskaalse werkverliese onafwendbaar word.
“By Venetia gaan ontwikkeling en ander infrastruktuurwerk voort, al is produksie tydelik gestaak. Indien daar vroeër beplan is, kon daar moontlik gekyk word of werknemers opgelei en tydelik in diens geneem kon word om daardie werk uit te voer.
“Sulke moontlikhede word baie moeiliker om te ondersoek sodra die formele afleggingsproses begin het,” sê Venter.
Volgens hom sal deursigtige konsultasie geleenthede skep vir alternatiewe wat die impak op werknemers en gemeenskappe beperk.
Venter sê die mynbedryf bly een van die belangrikste werkverskaffers in Suid-Afrika en dat die land nie herhaalde grootskaalse werkverliese wat onverwags op gemeenskappe afgedwing word, kan bekostig nie.
“Ons doen ʼn beroep op die regering, werkgewers en georganiseerde arbeid om saam te werk om ʼn raamwerk te ontwikkel wat vroeë waarskuwing, vroeë konsultasie en groter samewerking moontlik maak wanneer grootskaalse werkverliese verwag word.
“Dit sal werknemers, maatskappye en gemeenskappe ʼn veel beter kans gee om oplossings te vind voordat ʼn krisis ontstaan.”