
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Handhaaf professionele integriteit in die werkplek
Deur Essie Bester
Integriteit beteken dat wie ons aan die binnekant is, akkuraat weerspieël word aan die buitekant. Dit beteken nie volmaaktheid nie, maar ʼn strewe om voortdurend te groei. Dis die grondslag van sterk etiese standaarde en die rede waarom jy ʼn reputasie by die werk ontwikkel as betroubaar, geloofwaardig, eerlik en iemand wat respek afdwing – of nie.
Jong werkende, in hierdie artikel gaan jy meer leer oor hoe integriteit in die werkplek lyk en hoe om professionele integriteit in die werkplek te handhaaf.
Hoe lyk integriteit in die werkplek?
Iemand met integriteit en goeie werksetiek sal inisiatief neem, eerlik oor sy tyd onderhandel en sorg dat sy handelinge in lyn bly met sy persoonlike en werkwaardes. Dit beteken om jou verpligtinge na te kom en nee te sê wanneer jy nie nuwe projekte kan aanneem nie. Dit gaan daaroor om te weet hoe om te kommunikeer – as jy integriteit het sal jy jou foute met eerlikheid erken en deel hoe jy beplan om die situasie reg te stel.
In ʼn artikel oor leierskap in die werkplek, sê Paul Smit wat betrokke is by Akademia se studentesake: Strategiese ontwikkeling, dat die eienskappe van invloed, integriteit en identiteit belangrik is vir leierskap in die werkplek wat ʼn impak maak.
Die volgende is voorbeelde van professionele integriteit:
- • ʼn Sekretaresse met ʼn hoë werksetiek wat altyd betyds en hardwerkend is en goeie menseverhoudinge handhaaf.
- • ʼn Bestuurder wat regverdig, ferm en doelgerig die organisasie se belange op die hart dra.
- • ʼn Afdelingshoof wat nie sy of haar eie belange voorop stel nie, wat opbouende gesprekke met sy of haar bestuurders inisieer en ʼn gesonde afdeling bou waarbinne gesonde verhoudinge deel van ʼn gesonde werkkultuur word.
- • ʼn Uitvoerende hoof wat met nederigheid, regverdigheid, goeie oordeel en goeie besluitneming ander raadpleeg en visionêr leiding neem.
Die maniere waarop jy met eerlikheid en integriteit in die werkplek optree sluit in:
- • Respekteer die privaatheid van kollegas in privaat gesprekke.
- • Kommunikeer eerlik.
- • Neem verantwoordelikheid vir jou dade.
- • Voer beloftes wat jy maak uit.
- • Ondersteun jou organisasie se waardes met of sonder erkenning.
- • Gee erkenning aan jou kollegas wanneer hulle werk van hoë gehalte verrig.
- • Wees betroubaar.
Beoordeel jou eie integriteit en morele beginsels deur bestek te neem daarvan. Vra jouself die volgende vrae:
- • Hoe konsekwent kom ek my verpligtinge en beloftes by die werk na?
- • Is ek deursigtig genoeg met inligting?
- • Hoe ondersteun ek my kollegas om hul beste te wees?
- • Daag ek elke oggend op, betyds en gereed om te werk en lewer ek my beste prestasie?
- • Hou ek myself aanspreeklik – ook wanneer ek foute maak?
- • Is ek verantwoordelik?
- • Hou ek altyd by die vasgestelde sperdatum?
- • Lei ek deur my voorbeeld?
- • Toon ek respek vir die idees van ander?
- • Gee ek altyd krediet waar dit verskuldig is?
- • Wanneer toon ek integriteit – altyd of net wanneer iemand dit sal agterkom?
Wanneer daar dieper nagedink word oor hierdie vrae, kan jy areas identifiseer waar jy ook kan verbeter. Sodra jy jou swak areas geïdentifiseer het, kan jy beplan hoe om daarop te verbeter deur vir jouself haalbare doelwitte te stel en daaraan te begin werk. Evalueer jou vordering op ʼn deurlopende basis.
Noudat jy meer oor integriteit in die werkplek weet, kan jy stappe doen om te verseker dat jy altyd met integriteit optree en so baie voordele geniet. Werknemers wat integriteit in die werkplek toon geniet goeie werkverhoudings met ondersteunende en eendersdenkende kollegas. Jy sal vertrou word met meer verantwoordelikhede, meer bevorderingsgeleenthede geniet en ook die bevrediging daarvan ervaar om as ʼn gewaardeerde spanlid beskou te word.
As jong werkende, moet jy bewus wees van hoe om professioneel in die werkplek op te tree. Solidariteit bied twee aanlyn kursusse wat jou kan help om integriteit te verstaan, naamlik professionele optrede in die werkplek waar jy meer kan leer oor werksetiek, integriteit en hoe om goeie menseverhoudinge te ontwikkel, asook besigheidsetiket, iets wat uiters belangrik is indien jy as jong werkende in jou werkplek wil groei.
Jy is verantwoordelik vir jou eie gedrag. Begin vandag nog en maak seker dat jy weet hoe om professioneel op te tree by enige werkplek, ongeag die kultuur wat daar heers.
Hierdie aanlyn kursusse is gratis vir lede van Solidariteit, en jong werkendes tot en met die ouderdom van 25 geniet die volle voordele, teen helfte van die prys. #RaakBetrokke by Solidariteit en bemagtig jouself om jou volle potensiaal te kan bereik.