Foto Krediet: Karolina Grabowska | Pexels
Gekopieër
Help! My baas is ʼn monster
Deur Reon Janse van Rensburg
Daar is baie personeel wat met ʼn huppel in hul stap die kantoor op ʼn Maandag betree en daarna uitsien om die week saam met hulle kollegas en hulle bestuurder te begin. Almal is egter nie so gelukkig om ondersteunende kollegas en ʼn bestuurder te hê waarop hulle kan staatmaak vir verskillende tipes ondersteuning nie.
Terwyl daar bestuurders is wat goeie leierskapvaardighede toon en hulle spanlede aanmoedig om sukses te bereik, is daar bestuurders wat glad nie daaraan dink nie en meer skade aan die werkplek rig as wat denkbaar kan wees.
Hierdie tipe bestuurders is onvoorspelbaar, ontoeganklik en laat jou meestal glo dat jy nie in staat is om jou werk te doen nie. Elke bestuurder wat op hierdie manier regeer het hulle eie unieke kenmerke en ek is seker dat jy dié lys kenmerke van jou eie bestuurder reeds in jou kop kan noem.
Hoewel hierdie tipe boeliegedrag nie in die werkplek hoort nie en dit ook nie eintlik deur enige maatskappy geduld moet word nie, is dit nie so maklik vir die gewone werknemer om die probleem aan te spreek nie, omdat jy as werknemer gewoonlik min tot geen insae in hierdie tipe aangeleenthede het nie.
Hoe kan jy as gewone werknemer jou bestuurder tot verantwoording roep en seker maak dat jou werk en die werkplek weer vir jou ʼn plek van vreugde is?
- Moenie van jou bestuurder af weghardloop of skuil nie. Kyk hom of haar vierkantig in die oë (al is dit intimiderend – drink dalk eers ʼn koppie koffie en besluit vooraf wat jy wil en nié wil sê nie).
Verduidelik op ʼn mooi manier aan jou bestuurder wat jou hinder om jou werk behoorlik te doen. Verduidelik graag hoe jy die situasie sal wil hanteer en watter oplossings jy mee vorendag sal kom. Gebruik voorbeelde van gevalle in die verlede en hoe jy dit eerder sou wou sien uitspeel. Probeer tot ʼn vergelyking kom, of selfs net ʼn middelpunt bereik, waar julle mekaar kan ontmoet en op ʼn neutrale wyse enige probleme kan oplos.
- Pak die gesprek op ʼn eerlike wyse aan. Laat toe dat jou bestuurder ook sy of haar vrese aan jou verduidelik.
Jou bestuurder het ook sekere take om te verrig en word ook op uitsette gemeet. Nes jy ʼn bestuurder het, het hy of sy ook waarskynlik iemand waaraan hulle rapporteer. Hoewel jy nie noodwendig van elke uitset weet nie, mag jou bestuurder dalk onder groot druk geplaas word om te verseker dat sekere uitsette behaal word. Hoewel druk geen verskoning is om ʼn tiran te wees nie, is dit die ideale geleentheid om elkeen se vrese en bekommernisse beter te verstaan.
- Kommunikeer gereeld en baie met jou bestuurder.
Indien jou bestuurder altyd wonder waarmee jy besig is en selfs nog meer werk op jou lessenaar laai omdat hy of sy daarvan oortuig is dat jy net na jou rekenaar staar, is dit die ideale tyd om byna elke stap en taak waarmee jy in ʼn dag besig is aan jou bestuurder te kommunikeer. Stuur gereeld kort opsommende e-posse om te verduidelik waarmee jy besig is, wat jy volgende aanpak, wat jy afgehandel het, navrae ens. Nie net hoef jou bestuurder dan nooit te wonder wat aangaan nie, maar hy of sy sal ook moontlik gemakliker raak omdat dit duidelik is dat jy verseker nie besig is om bloot na ʼn rekenaarskerm te staar nie.
Elke bestuurder se bestuurstyl verskil en word deur verskeie faktore soos hulle persoonlikheid beïnvloed. Indien jy braaf genoeg is om die probleem aan te spreek en om veral die kern van die probleem te ondersoek, kan jy jou bestuurder se optrede bestuur en weet hoe om in sekere situasies te reageer. Op dié manier word die groot monster ʼn klein monstertjie en jy het die towerstaf in jou hand.
Jy is egter geregtig tot billike dienspraktyk en Solidariteit beskerm jou hierteen in die werkplek. Hê gemoedsrus – word beskerm vandag! Sluit aan as lid van Solidariteit en verkry ’n magdom addisionele voordele (soos gratis toegang tot nagenoeg 150 voortgesette leerkurusse, vakansievoordeel, werkfasilitering, mentorskapprogramme en selfs begrafnisbystand). Klik hier.