Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Solidariteit se afdeling vir beroepsgesondheid en veiligheid beding meer as R150 miljoen vir lede in 2024
Deur Heléne Mocke
Eise wat gesamentlik meer as R150 miljoen beloop, is vanjaar danksy Solidariteit se Beroepsgesondheid- en veiligheidsafdeling (BGV) namens lede wie tydens die uitvoer van hul pligte beseer is of wie beroepsiektes opgedoen het beding.
Die sake wat deur Solidariteit se span BGV-spesialiste hanteer word, sluit in sake wat verband hou met beroepsbeserings en beroepsiektes, maar ook die verteenwoordiging van lede tydens verhoorondersoeke. Sulke ondersoeke word onder meer deur die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie en die Departement van Indiensneming en Arbeid ná sterftes in ʼn werkplek behartig.
Toegang tot hierdie gespesialiseerde regshulp word gedek deur lede se ledegeld. Dit is ʼn aansienlike voordeel veral in die lig daarvan dat prokureurs wat in hierdie soort sake spesialiseer vanaf R3 500 per uur vir hul dienste vra.
Volgens Johan Böning, hoof van die BGV-afdeling by Solidariteit, sou baie van hierdie eise van lede nie sonder Solidariteit suksesvol afgehandel kon word nie. “Dit neem dikwels jare om hierdie eise te finaliseer – veral eise by die Vergoedingskommissaris wat ʼn staatsinstelling is en deur swak dienslewering gekenmerk word. Desnieteenstaande slaag ons daarin om jaarliks miljoene vir lede wat beroepsbeserings of beroepsiektes opgedoen het, te beding.
“Ons strewe by Solidariteit se BGV-afdeling is om ʼn gesonde en veilige kultuur vir ons lede in werkplekke te help skep sodat hulle vry, veilig en voorspoedig kan werk. Ons wil hulle ook bystaan waar hulle andersins nie hulp sou hê nie. Solidariteit se BGV-afdeling fokus ook op voorkomende aksies soos BGV evaluasies of oudits, en bied ook BGV-opleiding op versoek van werkgewers aan sodat lede in gesonde en veilige omstandighede kan werk. Werkgewers het ʼn grondwetlike verantwoordelikheid teenoor hul werknemers om ʼn gesonde en veilige werksomgewing daar te stel,” beklemtoon Böning.
BGV-sake moet natuurlik met groot sensitiwiteit en deernis hanteer word aangesien werkers se lewe soms onherroeplik verander het weens ʼn beroepsbesering en/of ʼn beroepsiekte.
Solidariteit het in baie gevalle ingegryp wanneer werkgewers eise nie aangemeld en toegesien het nie dat beserings of siektes wél op die voorgeskrewe wyse by die Vergoedingskommissaris of Rand Mutual Assurance (RMA) aangemeld word.
Johan Böning het daarop gewys dat werkgewers se nalatigheid soms die oorsaak van beroepsbeserings of -siektes is.
Die BGV-afdeling het lede vanjaar weereens met klagtes oor onveilige en ongesonde werksomstandighede bygestaan.
Een van die bekende sake oor ʼn onveilige en ongesonde werkplek wat Solidariteit se BGV-afdeling vanjaar in samewerking met Solidariteit se Openbare Sektor-afdeling aangepak het, is die inspeksie by en sluiting van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se hoofkantoor by Telkom Towers in die Pretoriase middestad.
Die SAPD-hoofkantoor is gesluit nadat die Departement van Indiensneming en Arbeid op versoek van Solidariteit ʼn inspeksie by die Departement van Arbeid uitgevoer het weens talle klagtes oor haglike werksomstandighede en die gebou wat erg verwaarloos en vuil was. Lees hier meer oor die saak.
Hierdie drastiese maar nodige optrede het plaasgevind danksy die toewyding van sy BGV-afdeling wat spesialiskennis en ervaring het van die uitdagings waarmee sy lede in die werkplek te doen kry en wat altyd gereed is om daarop te reageer.
Solidariteit het vanjaar verskeie ander sake namens sy lede in die polisiediens teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aanhangig gemaak. Lees meer hier oor ander polisie-infrastruktuur wat ʼn gevaar vir die mense wat daar werk inhou en waarop die owerhede bedag gemaak is.
Alhoewel dit volgens Johan Böning niks nuuts is vir Solidariteit om op hierdie manier vir sy lede in te tree nie, is hy as hoof van die BGV-afdeling dankbaar dat Solidariteit kon help om toe te sien dat ʼn gesonde en veilige werkplek geskep word, asook om vergoeding vir lede te beding nadat hulle in die uitvoering van hul pligte beseer is of ʼn beroepsiekte opgedoen het.
“Deur hierdie ondersteuning aan lede te bied en inaggenome die eise wat die Vergoedingsfonds aan lede uitbetaal het nadat die BGV Afdeling hul eise suksesvol afgehandel het, bewys Solidariteit die waarde wat Solidariteit-lidmaatskap aan lede bied,” sê Böning.
Sluit vandag hier aan en kry gratis advies oor beroepsgesondheid en arbeidsregsaangeleenthede.