loading
Mediaverklarings
22 uur gelede
solidariteit-daag-black-business-council-uit-om-seb-verslag-verkeerd-te-bewys

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit daag Black Business Council uit om SEB-verslag verkeerd te bewys

Navorsers van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het ʼn eenvoudige uitdaging aan die Black Business Council gestel ná laasgenoemde se leë kritiek op ʼn pas uitgereikte verslag oor die koste van voldoening aan swart ekonomiese bemagtiging (SEB).

Die uitdaging wat aan hulle gestel word is om hierdie verslag van die SNI en die Vryemarkstigting deur bewyse of syfers van hulle eie verkeerd te bewys, of om andersins die geweldige omvang van die SEB-probleem te erken.

Terwyl die SNI sterk daaroor voel dat Suid-Afrikaners uit alle oorde nodig het om van die skoksyfers en oorsake te hoor wat in die verslag onthul is, het die Black Business Council se Elias Monage aan Business Day gesê die opstellers van die verslag “praat gemors” en dat die bevindinge “nie deur bewyse gesteun word nie”.

Volgens die SNI mag Suid-Afrikaners wat aan ʼn beter toekoms glo nie sulke halfhartige pogings om onthullings soos dié onder die mat in te vee, duld nie.

In die verslag word bereken dat SEB die ekonomiese groei in Suid-Afrika jaarliks met 3% inkort. Hierdie voldoening het die SA ekonomie sedert 2007 ongeveer R5 000 miljard gekos én tot die verlies van ongeveer 3,8 miljoen werksgeleenthede gelei.

Sedert die bekendstelling van die verslag was die Black Business Council een van die enkele groepe wat hierdie syfers bevraagteken het, sonder om dit met syfers van hulle eie te weerlê.

Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van SNI en mede-opsteller van die verslag, sê kritiek daarop sal verwelkom word, maar sover is weinig meer as leë en oningeligte beledigings opgedis.  

“As die Black Business Council die verslag as ‘gemors’ wil afmaak, moet hy darem die teendeel kan bewys. Tog het geen enkele kenner of organisasie al enige bewyse gelewer dat ons verslag óf syfers onbetroubaar of onakkuraat is nie.

“Ons wys hoe SEB só sleg vir Suid-Afrika is dat dit miljoene se toekoms saboteer en dit beslis nie langer geduld kán word nie. Hierdie is geen geringe saak nie en daarom daag ons kritici soos hierdie uit om met hulle eie bevindinge vorendag te kom. As hulle nie kan nie, moet hulle dan bereid wees om die omvang van die probleem openlik te erken,” sê Du Buisson.

Volgens hom sal die SNI verras wees om grondige kritiek van die Black Business Council te ontvang, selfs al hou die groep homself voor as een met ʼn strewe om swart mense te bemagtig. Luidens die verslag ly spesifiek swart Suid-Afrikaners óók onder die gevolge van elite verryking as gevolg van SEB.

Die SNI en die Vryemarkstigting stel dit onomwonde dat hulle vertroue het in die metodologie wat in die maandelange studie gebruik is, en dat die koste van voldoening aan SEB soveel druk op die ekonomie geplaas het dat miljoene Suid-Afrikaners van alle agtergronde daardeur van werk en ʼn beter toekoms beroof is.

Die ekonomiese verlies wat SEB meebring kon volgens die SNI al lankal ʼn antwoord gegee het vir Suid-Afrikaanse vraagstukke soos ongelykheid, werkloosheid of armoede.

Volgens Du Buisson ontbloot die verslag SEB as ʼn meulsteen om die Suid-Afrikaanse ekonomie se nek en wanneer kritici soos die Black Business Council dit as gevolg van ideologiese of politieke redes verwerp, moet hulle aangespreek word.

“Ons sê dat diegene wat SEB verdedig en nie bereid is om die krisis te erken nie, dus óf begunstigdes daarvan, óf net oningelig is. Hulle is dan ook ten gunste van ekonomiese rampspoed en moontlik die hoogste werkloosheidsyfer ter wêreld,” sê hy.  

Solidariteit hou vol dat die enigste volhoubare vorm van bemagtiging ekonomiese groei is en beskou enige beleid soos dié wat groei belemmer as ʼn onreg teen Suid-Afrika en sy inwoners.

Hierdie verslag gaan ook met politieke partye binne die regering van nasionale eenheid (RNE) gedeel word op wie daar eweneens ʼn verantwoordelikheid rus om die land van onderdrukkende beleidsrigtings te bevry.

Klik hier vir die verslag oor die koste van SEB wat op 12 Junie deur die SNI uitgereik is.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel