
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Nuwe regulasies bedreig duisende se werk in die skoonheidsbedryf
Nuwe regulasies wat verpligte registrasie en lisensiëring vir spesialiste in die somatologiebedryf ʼn vereiste wil maak, bedreig die toekoms van etlike ondernemings in dié veld én kan tot onnodige werksverliese lei.
Só voer Solidariteit aan in ʼn formele skrywe aan die minister van gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi, waarin hulle beswaar aanteken teen die voorgestelde regulasies van die Raad vir Verwante Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (AHPCSA).
Die besluit oor die voorgestelde regulasies berus nou by die minister. Solidariteit dring dus daarop aan dat die minister deeglike konsultasieprosesse vooraf oorweeg asook dat hy duidelike gepaardgaande riglyne sal verskaf.
Volgens Johan Roos, netwerkorganiseerder by Solidariteit, is daar nie naastenby genoeg met belangegroepe in die bedryf gekonsulteer voor die regulasies opgestel is nie.
“Ons vind nie fout met regulering binne die bedryf nie. Hierdie is egter onnodige en oordrewe bepalings wat daartoe kan lei dat duisende mense hul werk verloor en dat kleinsakeondernemings gedwing sal word om hul deure te sluit,” sê Roos.
Volgens Solidariteit sal die verpligte registrasie individue, praktyke en studente benadeel, en sal dit óók hoë koste en ingewikkelde nakomingsvereistes meebring.
Dit sluit in die vereiste dat ʼn somatoloog slegs vanuit ʼn geregistreerde praktyk mag handel dryf en nie meer, soos tans die geval is, dienste soos laserbehandeling en permanente grimering mag lewer, of gespesialiseerde produkte vanuit skoonheidsalonne of ander persele mag verkoop nie.
“Hierdie regulasies sal veral ʼn finansiële las op klein- en mediumondernemings plaas wat reeds onder druk verkeer. Daar is geen duidelikheid oor hoe die staat beplan om ondernemings en praktisyns tydens hierdie oorgangsfase by te staan nie.
“Dit hou dus ʼn bedreiging in vir winkelverkope, die erkenning van internasionale kwalifikasies van skoonheidskole, asook die toekoms van terapeute wat deur kortkursusse opgelei word.
“Die voorgestelde bepalings het dus verreikende gevolge vir individuele somatoloë, opleidingsinstellings, produkverskaffers en mediese spa-ondernemings,” sê Roos.
Solidariteit versoek in sy skrywe aan die minister die onmiddellike hersiening of afskaffing van die regulasies en vra dat deeglike konsultasie met alle betrokke rolspelers sal plaasvind vóór enige beleidsveranderinge geïmplementeer word.
Volgens Roos het Solidariteit die potensiële skade wat hierdie regulasies kan veroorsaak, duidelik in sy gesprekke met die Departement van Gesondheid uiteengesit.
Sien die skrywe aan die minister hier.