
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Bestuurder met meer as R1 miljoen vergoed ná ontslag by Harties-landgoed
Deur Heléne Mocke
Ingryping van Solidariteit het die bestuurder van ʼn inwonersvereniging by Hartbeespoortdam gehelp om lywige vergoeding weens sy onregmatige afdanking in 2024 te eis.
Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het onlangs bevind dat Hannes Hendriks se afdanking as bestuurder van die Pecanwood-inwonersvereniging onregverdig was en dat die vereniging hom ʼn aansienlike bedrag as vergoeding moet betaal.
Hendriks was vanaf April 2021 in diens van Pecanwood HOA, maar is in Junie 2024 weens beweerde wangedrag ontslaan. Die vereniging het beweer dat hy ʼn diensverskaffer vir ʼn herstelprojek aangestel het sonder behoorlike goedkeuring, wat tot ʼn geldelike eis teen die vereniging gelei het.
Solidariteit het die saak namens Hendriks na die KVBA geneem. Die vakbond se regsverteenwoordiger, Karla Endres, het tydens die verrigtinge aangevoer dat Hendriks se ontslag én die bewerings teen hom ongegrond was.
Gedurende die arbitrasieverrigtinge het dit duidelik geword dat die vereniging nie kon bewys dat Hendriks inderdaad die diensverskaffer formeel aangestel het nie. In haar uitspraak het die Kommissaris ook beklemtoon dat die vereniging selektief opgetree het deur slegs vir Hendriks dissiplinêr te vervolg, terwyl ʼn ander senior bestuurder – wat self regstreeks by e-poskommunikasie en handelinge rakende die diensverskaffer betrokke was – glad nie gestraf is nie.
Alhoewel die Kommissaris bevind het dat Hendriks se ontslag onregverdig was, was sy van mening dat die omstandighede dit nie wenslik sou maak om hom in sy vorige pos te herstel nie. Dus is daar op ʼn billike en regverdige vergoeding besluit.
Die Pecanwood-inwonersvereniging is beveel om Hendriks teen 20 Junie 2025 ʼn bedrag gelykstaande aan agt maande se salaris te betaal. Die bedrag beloop meer as R1 miljoen rand.
Hierdie saak beklemtoon die beginsel dat werkgewers nie werknemers sonder goeie rede mag afdank nie.
“Ons is verheug oor die uitkoms en trots dat Solidariteit kon help om geregtigheid vir mnr. Hendriks te bewerkstellig,” sê Endres.
Solidariteit bly daartoe verbind om sy lede in die werkplek by te staan – veral met ingewikkelde arbeidsgeskille soos hierdie.