
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Lewenslange leer in die nuwe wêreld van werk
Deur Nico Strydom
Die verskeie nywerheidsrevolusies waardeur die wêreld al is, het die wêreld onomkeerbaar verander en veral die wêreld van werk dramaties hervorm.
Die werkplek het deur opeenvolgende nywerheidsrevolusies beduidend verander, met elke nywerheidsrevolusie wat nuwe tegnologieë en organisatoriese strukture meebring.
Die vierde nywerheidsrevolusie is ʼn tydperk van vinnige tegnologiese vooruitgang en ʼn voortsetting van wat bereik is deur die voorafgaande digitale revolusie. Dit het hoe ons leef en werk aansienlik verander deur die integrasie van tegnologieë en deur deurbrake op verskillende terreine.
Die vyfde nywerheidsrevolusie verwys na ʼn nuwe fase van tegnologiese vooruitgang waar mens en masjien toenemend saamwerk om innovasie en volhoubaarheid te dryf, en waar lewenslange leer en die ontwikkelinge van sekere vaardighede noodsaaklik is.
Die tegnologiese vooruitgang in die afgelope dekades het mense se lewens drasties verander en hoewel dit die kans bied om menslike lewe te verbeter, bring dit ook groot kommer mee oor spesifiek die wêreld van werk. Een van die grootste vrese rakende nuwe tegnologieë, soos kunsmatige intelligensie en robotika, is dat dit die menslike faktor in werk sal vervang.
Met die vyfde nywerheidsrevolusie verskuif die fokus egter na mens-masjien-samewerking waar tegnologie menslike vermoëns kan verbeter. Hier is die klem op mense wat saam met masjiene werk, en hul menslike sterkpunte en vaardighede inspan.
Dit lei tot ’n herbesinning oor belangrike menslike vaardighede in die werkplek sowel as pro-aktiewe verandering en aanpassing, en oor die verantwoordelike en etiese gebruik van tegnologie.
Die vyfde nywerheidsrevolusie beklemtoon verder ʼn mens-gesentreerde benadering waar menslike welstand en samewerking met tegnologie geprioritiseer word en die sterkpunte van beide ingespan en versterk word om prosesse en uitkomste te optimaliseer.
Die fokus is dus daarop om menslike vermoëns te verbeter terwyl tegnologie ingespan word om roetine en ingewikkelde take outomaties te hanteer. Daar is ʼn verskuiwing van ʼn tegnologie-gesentreerde benadering na ’n benadering waar mens en masjien saamwerk en tegnologie gebruik word om produktiwiteit te verhoog terwyl menslike vaardighede ’n al hoe belangriker rol speel.
Terwyl masjiene ingespan kan word om sekere herhalende, tydrowende en datagedrewe werk te doen, word menslike vaardighede benut om welstand, volhoubaarheid en doeltreffendheid te verbeter.
Met masjiene wat meer take hanteer, sal menslike rolle onder meer fokus op bestuur en besluitneming. Die vyfde nywerheidsrevolusie beklemtoon lewenslange leer om voortdurend nuwe vaardighede aan te leer en sodoende by veranderende en ontwikkelende werksrolle aan te pas.
Sagte vaardighede soos aanpasbaarheid, kritiese denke, probleemoplossing, emosionele intelligensie, kommunikasie, leierskap, spanwerk, kreatiwiteit, innovasie en tydsbestuur sal noodsaaklik wees vir sukses. Dit sal werknemers in staat stel om te floreer in ‘n mensgesentreerde tegnologies gevorderde omgewing.
Skep jou gratis Solidariteit-profiel en raak deel van ʼn werkgemeenskap wat jou as mens steeds koester en jou wil toerus om suksesvol te kan wees in die toekoms van werk.