loading
Mediaverklarings
9 maande gelede
sapd-se-nasionale-hoofkantoor-moet-sluit-nadat-solidariteit-haglike-toestande-onthul

Foto Krediet: Solidariteit

SAPD se hoofkantoor moet sluit nadat Solidariteit haglike toestande onthul

Die hoofkantoor van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Pretoria is ongeskik vir menslike gebruik verklaar en moes gister inderhaas ontruim word.


Die gebou moet tot verdere kennisgewing gesluit bly tensy ʼn inspeksie dit opnuut veilig verklaar.
Solidariteit se afdeling vir Beroepsgesondheid en -veiligheid (BGV) is gister saam met ʼn inspekteur van die Departement van Arbeid na die hoofkantoor by die sogenaamde Telkom Towers wat agt jaar gelede vir nagenoeg R900 miljoen deur die SAPD gekoop en glo opgeknap is.


Dié besoek was die gevolg van talle klagtes en etlike onbeantwoorde skrywes van die BGV-afdeling aan die SAPD en lt.genl. S.W. Chamane , afdelingskommissaris van die SAPD se regsdienste .


Johan Böning, afdelingshoof van die BGV-afdeling by Solidariteit, sê verskeie klagtes is van polisielede ontvang, waaronder ernstige bewerings soos die tekort aan skoon drinkwater, swak en stukkende lugversorging en ventilasie, stukkende en vuil toilette, geslote en ongemerkte nooduitgange, stukkende hysbakke, onvoldoende toerusting vir brandbestryding en algemene vuil en besmette kantoorruimtes.


Onder hierdie klagtes was daar ook bewerings van lugwegsiektes en allergiese reaksies, vermoedelik weens vuil kantoorspasie en gebrekkige ventilasie, en werkers het ook oor vuil matte en probleme met luise en kakkerlakke gekla.


Volgens Renate Pieterse, netwerkkoördineerder van die openbare bedryf by Solidariteit, is dié hoofkantoor die plek waar onder meer die SAPD se regsafdeling en korporatiewe bestuursafdeling moet werk.


“Die minister van polisie (Bheki Cele) en die nasionale polisiekommissaris (Fannie Masemola) is ook veronderstel om daar te sit. Die boonste vloer waar minister Cele se aangewese kantoor is, is nuut oorgedoen en met goeie tegnologiese sekuriteitstoestelle beveilig. Dít terwyl die res van die 24 vloere as onleefbaar beskou word.


“Nadat die Departement van Arbeid en Solidariteit se BGV-afdeling die inspeksie voltooi het, het die departement ʼn onmiddellike kennisgewing van verbetering uitgereik en die gebou is dadelik ontruim,” sê Pieterse.


Die gebou het voorts nie oor die vereiste okkupasiesertifikate of goedkeuring van die brandweerdepartement beskik nie. Die SAPD se hoofkantoor mag dus eers weer sy deure oopmaak nadat ʼn okkupasiesertifikaat toegeken is en daar ook ʼn inspeksie deur die brandweer gedoen is.


Volgens Helgard Cronjé, adjunkhoofsekretaris van die openbare bedryf by Solidariteit, is dit skokkend om te besef dat die amptelike wetstoepassers van die land nie eers basiese veiligheidswetgewing kan nakom nie.


“Tog kan minister Cele polisiegeld en -tyd gebruik om met ʼn polisiehelikopter na die ANC se manifesbekendstelling in Durban te vlieg, maar terug by die huis is die hoofkantoor absoluut vervalle.
“So, wat is nou eintlik die prioriteite, ANC-politiek of die veiligheid van landsburgers? Ek dink die antwoord is voor die hand liggend. Én dit is ʼn baie ernstige saak. Die impak op werkersmoraal in die SAPD en die effek daarvan op misdaadbekamping is baie erg.”

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel