loading
Mediaverklarings
20 uur gelede
flysafair-skikking-basiese-beskerming-vir-vlieeniers-en-n-terugslag-vir-arbeidsverhoudinge

Foto Krediet: Okay Deer

FlySafair-skikking: Basiese beskerming vir vlieëniers en ʼn terugslag vir arbeidsverhoudinge

Ná 12 dae van uitsluiting en staking deur FlySafair-vlieëniers, is daar uiteindelik deur middel van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) se skikkingsvoorstel, ʼn ooreenkoms bereik. Dit bring die langste vlieënierstaking en -uitsluiting in die Suid-Afrikaanse geskiedenis tot ʼn einde.

Volgens Helgard Cronjé, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, is die KVBA-gedrewe voorstel, wat ten einde deur beide partye aanvaar is, die naaste aan ʼn middelpunt waartoe partye kon kom. Daar is geen wenners in hierdie proses nie. Die nuwe skofroosterstelsel word nou deur vaste reëls gereguleer, en nie meer deur sogenaamde “sagte reëls” wat na willekeur deur die bestuur aangepas kan word nie.

Hoewel FlySafair steeds volhou dat hulle nie aan vlieëniers ʼn gewaarborgde afnaweek per maand kan bied nie, is daar ná onderhandelinge ooreengekom dat vlieëniers minstens een 60-uur-afnaweek in elke sesweke-siklus sal ontvang, met ʼn minimum van nege naweke af per jaar. Vlieëniers wat op hul afdae moet werk, sal daardie afdae in die volgende maand kan terugkry. Hulle sal ook toegelaat word om onderling skofte uit te ruil. Verder sal hulle minstens tien dae af per maand ontvang.

“Hoewel die ooreenkoms ʼn belangrike stap is, is daar steeds kommer dat dit slegs die heel basiese regte van die vlieëniers beskerm,” sê Cronjé. Dit is hartseer en ongehoord dat ʼn werknemer eers vir 12 dae moet staak om ʼn werkgewer se skriftelike toestemming tot basiese beskermingsmaatreëls te kry.

“Hierdie ooreenkoms kon egter reeds in Februarie bereik gewees het,” sê Cronjé. “As FlySafair se bestuur reeds toe dieselfde toegewings rakende die rooster gemaak het, sou die staking en uitsluiting vermy kon word. Die bestuur se toondoofheid teenoor die redelike pleidooie van hul vlieëniers, het uiteindelik tot konflik en verliese vir alle partye gelei, en het passasiers en die publiek ook erg ontwrig.”

Wat vergoeding betref, sal vlieëniers oor die volgende vier jaar salarisverhogings van onderskeidelik 6%, 6,5%, 6,8% en 6,9% ontvang. Hierdie persentasies sal ook van toepassing wees op jaarlikse aanpassings in reis- en verblyftoelaes, asook die mediese toelaag. Vlieëniers sal ook bykomende vergoeding vir enige ure wat 65 vliegure per maand oorskry, ontvang.

Om die impak van die “geen werk, geen betaling”-reël tydens die staking en uitsluiting te versag, sal vlieëniers ʼn eenmalige ex gratia-betaling van 15% van hul maandelikse salaris ontvang, en hulle sal vyf verlofdae mag afkoop.

Cronjé beklemtoon dat vlieëniers en Solidariteit genoodsaak was om deur die media en oop briewe met die bestuur te kommunikeer, en terselfdertyd waninligting vanuit die maatskappy reg te stel. Uiteindelik het die KVBA ingegryp om, deur middel van ʼn baie moeilike konsiliasieproses, partye tot ʼn oplossing te help lei.

Verder bedank Solidariteit die twee senior KVBA-fasiliteerders, naamlik Duduzile Madubanya en Mahmood Fadal, vir hul toewyding en bereidwilligheid om lang ure te werk om uiteindelik die partye deur middel van hul skikkingsvoorstel oor die eindstreep te lei.

Cronjé doen egter ʼn dringende beroep op FlySafair om die manier waarop hulle arbeidsverhoudinge bedryf, te verander. Die vlieëniers se insette tydens die finalisering van die ooreenkomste het net weer bevestig hoe min vertroue hulle in FlySafair se bestuur het. Solidariteit het al honderde ooreenkomste beding en gefinaliseer, maar nog nooit só iets beleef nie. Indien daar nie drastiese verandering plaasvind nie, gaan hierdie skikking nie ʼn uitvloei van vlieëniers verhoed nie. Dit sal tot groot nadeel vir die maatskappy en die land wees.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel