
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Die Solidariteit Ambagnetwerk – ʼn waghond vir jong ambagslui
Deur Dirk Smit, Solidariteit-netwerkorganiseerder
Solidariteit se beroepsnetwerke is gebou op sewe pilare – elk met ʼn unieke funksie om lede te ondersteun, veral in hul werkplek. Hierdie pilare vorm die fondament waarop Solidariteit sy lede beskerm, bemagtig en laat groei. Elke beroepsnetwerk funksioneer op ʼn unieke wyse en dra by tot ’n samehangende, doelgerigte ondersteuningstruktuur.
Die Solidariteit Ambagnetwerk het die spesifieke missie om ambagslui in die werkplek te beskerm én om die kennis en vaardighede van onderskeie ambagte aan jonger generasies oor te dra. Hierdie werk sluit aan by die breër werksaamhede van Solidariteit, met Sol-Tech wat sedert 2007 ʼn sleutelrol speel om jong mense op te lei en toe te rus vir loopbane in ambagte en tegniese beroepe.
Uitdagings vir jong ambagslui in die werkplek
Ambagsomgewings in Suid-Afrika is egter nie sonder uitdagings nie. Jong ambagslui word daagliks met faktore soos rassediskriminasie, invoer- en uitvoerbeleide, en ander eksterne faktore gekonfronteer. Die Solidariteit Ambagnetwerk tree aktief op om hierdie jong werkers teen uitbuiting en onregverdige behandeling te beskerm.
Een van die maniere waarop die Solidariteit Ambagnetwerk dit doen is deur die plasing van studente deur Ajani – ʼn belangrike skakel tussen Sol-Tech en die werkplek. Daar moet aan drie kontraktuele praktyke voldoen word voordat ʼn student geplaas kan word: die student moet van die relevante SETA-akkreditasie beskik, daar moet ʼn werkgewer beskikbaar wees en Ajani se bystand. Praktiese ondervinding is noodsaaklik vir kwalifikasie, maar dit is hier waar probleme dikwels ontstaan.
Onlangs moes die Solidariteit Ambagnetwerk ingryp toe drie studente hul kontraktuele plasing moes aanpas, en werkgewers geweier het om hul “logboeke” af te teken – ʼn vereiste om die rooiseëlkwalifikasie te voltooi. Sonder hierdie ondertekening kan studente nie hul finale vaktoets aflê nie, wat hul toekoms direk beïnvloed. Die Solidariteit Ambagnetwerk het hier opgetree deur die werkgewer te konfronteer, druk uit te oefen, en uiteindelik die studente gehelp om hul opleiding suksesvol af te handel.
Hierdie situasie is nie uniek nie. Al hoe meer jong ambagslui ervaar soortgelyke struikelblokke en is kwesbaar weens ʼn gebrek aan kennis van hul regte. Werkgewers misbruik soms hierdie onkunde tot hul voordeel en byt sodoende studente uit.
Algemene probleme wat jong ambagslui in die gesig staar, sluit die volgende in:
- • Werk sonder behoorlike toesig
- • Oormatige en ongereguleerde werksure
- • Pligte wat nie in lyn is met hul opleiding nie
- • Onveilige werksomstandighede
- • Probleme met die aftekening van logboeke
- • Kontraktuele geskille rakende diensvoorwaardes
Die pad na volwaardige ambagsmeesterskap
Ambagslui – veral jong persone – het ’n reg op beskerming en ondersteuning. Dit is van kardinale belang dat hulle hulself bemagtig met kennis, en weet waar om hulp te kry. Die Solidariteit Ambagnetwerk is daar om hulle by te staan, of dit nou oor regshulp of navrae handel, of bloot om onsekerhede uit die weg te ruim.
Die pad na meesterskap begin met beskerming, ondersteuning en kennis. En dít is presies wat die Solidariteit Ambagnetwerk bied.