
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit stuur voorstel oor handel aan Trump, Ramaphosa
Die Trump-administrasie in die VSA se aankondiging laat gisteraand dat ‘n 30%-invoertarief vanaf 7 Augustus op Suid-Afrikaanse invoere sal geld, terwyl tariewe vir al ons buurlande tot 15% afwaarts aangepas is, bevestig dat die onopgeloste politieke geskil tussen die VSA en Suid-Afrika steeds in die pad van ‘n gunstige handelsooreenkoms staan. Vir hierdie rede het Solidariteit vandag ‘n omvattende verslag aan die regerings van die VSA en Suid-Afrika gestuur met konkrete voorstelle oor hoe die geskil opgelos kan word.
Volgens Solidariteit is die werklike afstand wat die VSA en Suid-Afrika moet aflê om mekaar tóg met ʼn werkende bilaterale ooreenkoms te vind nié so ver soos wat meeste dink nie. Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, kan dié organisasie as veelsydige aktiewe rolspeler nie ‘n toeskouer wees terwyl duisende werksgeleenthede bedreig word of verlore gaan nie.
Dit gaan sonder twyfel die geval wees sou pres. Trump volhard met die handelstarief van 30% wat op Suid-Afrikaanse uitvoere na die VSA ingestel is. Die Suid-Afrikaanse regering het oor die afgelope dekade spanning met Washington laat toeneem deur eers by die BRICS-groepering aan te sluit en daarna openlik oor sy bondgenootskap met anti-VSA-magte soos Iran en Kuba te spog. Ook binnelandse beleid oor eiendomsreg en minderheidsregte het die afgelope tyd tot krapperigheid tussen die VSA en Suid-Afrika gelei.
Solidariteit glo egter die verskille tussen die twee lande kan uitgestryk word om sodoende te keer dat gewone Suid-Afrikaners die spit afbyt weens hoëvlak diplomatieke verskille wat tot hierdie Trump-strafmaatreëls gelei het.
Voorstelle vir ʼn ooreenkoms wat dié krisis kan ontknoop, sluit in:
• Eiendomsreg: Die SA-regering moet die klousule oor geen vergoeding in die Onteieningswet aanpas of uithaal om wetgewende sekerheid te gee.
• Plaasmoorde as prioriteit: Om die erns van plaasmoorde as prioriteit te erken en om meer hulpbronne daaraan te wy om dit te beveg en voorkom is ʼn eenvoudige manier om die VSA gerus te stel daaroor.
• “Kill the Boer”: Radikales kan nie gekeer word om haatdraende slagspreuke te skree of te sing nie, maar die regering kan dit maklik veroordeel.
• Vrystelling van rassewette vir VSA-ondernemings: Maak alternatiewe tot SEB-eienaarskap vir buitelandse ondernemings moontlik en moedig belegging aan deur hulle van gelyke indiensnemingsvereistes vry te stel.
• Uitfasering van rassewette: Om rassewette stelselmatig uit te faseer klop nie net met die Suid-Afrikaanse Grondwet nie, maar met die regering se definisie van regstellende aksie én internasionale norme daaroor.
• Neutrale buitelandse beleid: Suid-Afrika moet sy woord gestand doen oor sy beleid van onverbondenheid tot internasionale konflik deur nie by verafgeleë tweespalt betrokke te raak wat handelsvennote vervreem nie.
• Agoa: Die VSA en Afrika-lande soos Suid-Afrika kan aanhou voordeel trek uit die bestaande Agoa-handelsooreenkoms deur dit nie af te skaf nie.
• Bilaterale handelsooreenkomste: Die VSA kan SA van groter Chinese invloed weerhou deur ooreenkomste met SA te sluit, en laasgenoemde kan die bestaande handelsverhouding met die VSA versterk.
Volgens Hermann is hierdie ʼn kritieke tydstip waarop die trajek van Suid-Afrika dramaties kan verander. “Die grootste slagoffers van die verskerpte handelstarief gaan ongetwyfeld die gewone Suid-Afrikaanse werkers wees. Dit sluit Solidariteit-lede in, maar ook ander Suid-Afrikaners in allerlei bedrywe wat hulle werk in ʼn sinkende ekonomie gaan kwyt wees. Ons glo dit is in ons almal en ook in die VSA se belang dat ʼn beter ooreenkoms nou volg. En dit is nie so vergesog nie. Honderde duisende mense se werk kan letterlik gered word deur slegs tot die eenvoudige stappe wat ons voorstel in te stem,” sê Hermann.
As ʼn verantwoordelike vakbond en organisasie in Suid-Afrika bly Solidariteit verbind tot ʼn politiese en ekonomiese oplossing oor die voortdurende geskil met die VSA. Solidariteit het homself bereid verklaar om steeds sý deel te doen om die verhouding tussen die twee lande te herstel. Hy onderneem om aan te hou met plaaslike én internasionale skakelwerk en uitreikbesoeke, en glo daar is tóg hoop op ʼn ooreenkoms waarby Suid-Afrikaners én Amerikaners sal baat vind.
Lees die verslag wat aan pres. Trump en pres. Ramaphosa gestuur is hier.