loading
Mediaverklarings
1 dag gelede
vlieeniers-moet-billike-roosterooreenkoms-eers-op-skrif-sien-se-solidariteit

Foto Krediet: Okay Deer

Vlieëniers moet billike roosterooreenkoms éérs op skrif sien, sê Solidariteit

Vlieëniers van FlySafair wat deur Solidariteit verteenwoordig word, is nie bereid om hul reg op ʼn skriftelike ooreenkoms oor ʼn billike skofrooster prys te gee nie.
Samesprekings met die lugredery om die huidige vlieënierstaking te ontknoop, duur vandag (30 Julie) voort, met ʼn oplossing oor veral die rooster wat nog ontbreek.
Volgens Solidariteit is uitlatings in ʼn FlySafair-mediaverklaring van 29 Julie – naamlik dat daar inderdaad gewaarborgde rusnaweke in hul skofrooster bestaan, én dat vlieëniers insae in die rooster het – nuwe inligting, aangesien hierdie inligting nooit om die onderhandelingstafel genoem is nie.
Volgens Helgard Cronjé, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, bestaan daar nietemin geen geldige rede waarom FlySafair nie skriftelik tot die vlieëniers se eise oor die skofrooster moet instem nie en behoort dit nie ʼn hindernis te wees vir pogings om hierdie staking en die gevolglike ontwrigting te beëindig nie.
“Die versoek vir ʼn driedag-naweek in ʼn vyfweek-siklus waarvoor ons gevra het, kan volgens FlySafair nie deur hul stelsel se algoritme geakkommodeer word nie. Só ʼn skofplan was onder ons voorwaardes wat juis verwerp is.
“Tog word sommige van ons voorstelle reeds in die einste stelsel geakkommodeer en gebruik. Ons versoek is bloot dit: plaas die ooreenkoms op skrif sodat die vlieëniers die maatskappy daarby kan hou,” sê Cronjé.
Volgens hom weier FlySafair om hierdie bepalings op skrif te stel en hulle beskryf dit as “sagte” reëls waaraan die maatskappy die reg voorbehou om eensydige veranderinge aan te bring.
“As ons voorstelle redelike reëls is wat immers reeds deur die maatskappy geïmplementeer word, waarom is FlySafair so bang om skriftelik daarop ooreen te kom?” vra Cronjé.
“As jy die huidige stand van die verhouding en die eensydige implementering van die roosterstelsel in ag neem, gaan geen vlieënier mos vir “sagte” reëls te vinde wees nie.”
Solidariteit sê dit is aanvaarde praktyk in Suid-Afrikaanse arbeidsreg dat werknemers se diensvoorwaardes soos werksure óf in ʼn dienskontrak vervat word óf in die Wet op Basiese Diensvoorwaardes verskans word.
Dit is volgens Cronjé juis wat Solidariteit namens sy lede by FlySafair eis.
“Dit behoort eenvoudig te wees. Vat hierdie reëls wat rééds geïmplementeer word en kom ons plaas dit in ʼn ooreenkoms sodat vlieëniers dieselfde beskerming as ander werknemers geniet.
“Pleks daarvan was die maatskappy se voorwaardes waarop hulle bereid is om die vlieëniers ʼn stem op ʼn komitee te gee, dat die vlieëniers eerstens hul reg om oor die kwessie te staak moet prysgee.
Verder sal die komitee ook geen magte hê om aanbevelings af te dwing nie,” sê Cronjé.
Die ernstige gevolge hiervan kan nie oorbeklemtoon word nie. Volgens Solidariteit sal die vlieëniers in so ʼn geval hul enigste grondwetlike reg, wat as remedie en teenvoeter dien, wegteken. Dit terwyl die maatskappy sy volle magte om besluite te implementeer behou.
Cronjé beskou dit as ʼn ooreenkoms sonder enige balans.
“Die maatskappy se argument is dat ons operasionele beheer (namens die vlieëniers) soek. ʼn Ooreenkoms waarin hulle ʼn sê oor skofte verkry, beskerm tog ʼn basiese reg en is beslis nie ʼn oorname van operasionele beheer nie.
“Dit dien veel eerder as beskerming vir ʼn werknemer sodat ʼn werkgewer se magte beperk word tot sy sakebelange en sodat dit nie die werknemer se lewe regeer nie,” sê hy.
FlySafair het voorts aangedui hulle vrees dat hierdie kwessie dan in elke onderhandelingsiklus ter sprake gaan kom. Solidariteit se verteenwoordigers in die onderhandeling stel dit egter onomwonde dat hulle bereid is om ooreen te kom dat dit nie die geval sal wees nie. Die werkgewer sal die alleenreg behou om heronderhandeling oop te maak indien hulle enige veranderinge aan die skofrooster wil maak.
Dit sou volgens Cronjé billik wees mits die basiese reëls deur ʼn ooreenkoms beskerm word waarop werknemers sou kon terugval wanneer die werkgewer dit eensydig wil verander. Solidariteit eis dus passiewe beskerming vir sy lede terwyl die werkgewer voortaan steeds aktiewe beheer behou.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel