loading
Artikels
1 dag gelede
die-verlies-van-vaardighede-die-stil-vyand-van-ambagslui

Foto Krediet: Okay Deer

Die verlies van vaardighede: Die stil vyand van ambagslui

Deur Dirk Smit, netwerkorganiseerder by die Solidariteit Ambagnetwerk

In ʼn tyd waar tegnologie vinnig verander en ambagte voortdurend onder druk verkeer, is daar ʼn stil en dikwels onderskatte bedreiging wat nie met masjinerie of markkragte te doen het nie, maar met die ambagslui self: die verlies van vaardighede.

Wat is die verlies van vaardighede?

Dit verwys na die geleidelike verlies van ʼn persoon se praktiese of tegniese vaardighede wanneer dit nie gereeld gebruik, opgeknap of aangepas word nie. Dit kan selfs by ervare ambagslui voorkom, of juis daar waar daaglikse praktyk, opleiding of tegnologie nie bybly met veranderende eise nie.

Hoe lyk dit in die werklike lewe?

  • • ʼn Elektrisiën wat nie met nuwer slim-huisinstallasies werk nie, verloor vertroue met moderne stelsels.
  • • ʼn Sweiser wat hoofsaaklik ʼn toesighoudende rol speel, maar nie meer self gereeld sweis nie, verloor akkuraatheid en tegniek.
  • • ʼn Loodgieter wat nie in nuwe waterbesparingstegnologie opgelei word nie, raak agter in die mark.

Dit is nie altyd opsigtelik nie. Vaardighede vervaag met tyd totdat dit ʼn werklike risiko vir veiligheid, gehalte en selfs werksekerheid word.

Oorsake van die verlies van vaardighede in ambagte

  1. 1. Langtermynafwesigheid – dit is byvoorbeeld tyd wat afgeneem word vir gesondheid of kontrakwerk buite die veld.
  2. 2. Oorgang na administratiewe of toesighoudende rolle – minder praktyk, meer papierwerk. Ongelukkig sien ons hierdie al hoe meer dikwels en is dit in baie gevalle gesoute ambagslui wat bevorder word tot hierdie rolle wat dan maak dat hulle hulle ander vaardighede verloor.
  3. 3. Onvoldoende of geen bykomende opleiding – veral in sektore waar tegnologie vinnig verander. Dit word al hoe meer sigbaar waar individue nie tyd kry om opleiding te ontvang nie. Hulle word dan agter gelaat.
  4. 4. Herhalingswerk – waar dieselfde eenvoudige take herhaal word sonder enige uitdaging.
  5. 5. Outomatisering – waar handvaardigheid deur masjiene vervang word.

Gevolge vir die ambagberoep

Die grootste slagoffer van hierdie verlies aan vaardighede is die standaard van vakmanskap in Suid-Afrika. As vaardighede nie op datum en geslyp bly nie:

  • • word veiligheid in gedrang gebring;
  • • daal produktiwiteit en werkstandaarde;
  • • raak ambagslui minder aanpasbaar in nuwe rolle of projekte; en/of
  • • verloor ambagslui markwaarde en kan hulle hul selfvertroue begin verloor.

Wat kan gedoen word?

  1. 1. Doelgerigte voortgesette leer: Verskeie opleidingsinstansies werk alreeds saam met die Solidariteit Ambagnetwerk en ons het ooreenkomste in plek, juis vir ambagslui, sodat hulle relevante opleiding kan voltooi om hulself te bevorder en op te skerp. Solidariteit het ook meer as 150 kursusse vir voortgesette leer wat gratis is vir lede om te voltooi.Klik hier vir meer inligting.
  2. 2. Praktiese werkrotasie: Gee ambagslui die geleentheid om op ʼn roterende basis verskillende take uit te voer om hulle vaardighede te verbreed en aktief te bly.
  3. 3. Simulasies en vaardigheidstoetse: Selfs in tye van lae werklading moet daar simulasiegebaseerde opleiding wees om fyner vaardighede te slyp.
  4. 4. Mentorskapprogramme: Senior ambagslui moet aktief betrokke bly by die opleiding van jonger vaklui. Dit hou ook húlle vaardighede vars. Die Solidariteit Ambagnetwerk bied juis ʼn geleentheid vir persone om ʼn mentor te word of selfs om ʼn mentor vir hulself te kry. Kennis moet aan die volgende geslag oorgedra word. Lees hier meer oor Solidariteit se mentorskapprogram.
  5. 5. Erkenning van vaardigheidsontwikkeling: Gebruik stelsels van erkenning vir lewenslange leer – soos wat die Solidariteit Ambagnetwerk reeds bevorder – om ambagslui aan te moedig om voortdurend hulself te verbeter.

Die toekoms van ambagte in Suid-Afrika hang nie net af van nuwe talent nie, maar van die lewenslange versorging van bestaande vaardighede. Die verlies aan vaardighede mag in die stilligheid en stadig plaasvind, maar die impak daarvan is diep en wyd. Dit is tyd dat werkgewers en ambagslui self proaktief optree om hierdie bedreiging die hoof te bied – sodat ware vakmanskap nie net behoue bly nie, maar floreer. Die land het dit broodnodig!

Sluit vandag nog by die Solidariteit Ambagnetwerk aan en word deel van jóú beroepstuiste – ʼn gemeenskap wat jou wil  bemagtig om jou volle potensiaal te bereik!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel