loading
Artikels
1 dag gelede
kommunikasiekundiges-die-stem-van-n-organisasie

Foto Krediet: Okay Deer

Kommunikasiekundiges – die stem van ʼn organisasie

Elke organisasie het ʼn stem, maar wie is daarvoor verantwoordelik? Agter elke mediaverklaring, veldtog, artikel, video, sosialemediaplasing – basies enige kommunikasie van ʼn maatskappy – is ʼn kommunikasiekundige: ʼn strategiese denker wat nie net weet wat om te sê nie, maar ook wanneer, hoe en vir wie.

Die rol van die kommunikasiekundige

“Kommunikasie is nie net ‘PR’ nie,” sê Lindie de Beer, hoof van Solidariteit se kommunikasie- en bemarkingsafdeling. “Dit is ʼn strategiese funksie wat help om die regte boodskap deur die regte kanaal, op die regte tyd, aan die regte mense oor te dra – en om te meet of dit werk.”

 ʼn Goeie kommunikasiekundige is nie net iemand wat goed kan skryf of mooi praat nie. Dit is iemand wat sin kan maak van komplekse inligting, wat ʼn organisasie se stem kan verwoord én dit akkuraat aan die publiek kan oordra.

ʼn Suksesvolle kommunikasiekundige

“Ek dink nie kommunikasiekundiges kan dit in vandag se tyd enigsins bekostig om te stagneer nie,” sê Lindie. “Nie een dag in ʼn kommunikasiekundige se werk lyk dieselfde nie. Jy gaan dalk begin om een roete te volg en dan verander alles, of nuwe tendense ontstaan of selfs die boodskap verander. Jy moet dus regtig veerkragtig wees.”

Wat verg dit dan om ʼn suksesvolle kommunikasiekundige te wees? Hier is agt vaardighede wat ʼn kommunikasiekundige onmisbaar maak:

  1. 1. Strategiese denke: Jy is nie net besig met ʼn plasing op sosiale media nie – jy skep vertroue, geloofwaardigheid en langtermynbetrokkenheid. Die vermoë om strategies te dink is dus noodsaaklik!
  2. 2. Aanpasbaarheid en veerkragtigheid: “Jy moet soos ʼn rubberballetjie wees,” sê Lindie. “Geen dag by die werk is dieselfde nie. Jy moet kan wissel tussen skryf, ontwerp, nuus, veldtogte en soveel meer.”
  3. 3. Krisisbestuur: Wanneer dinge skeefloop, is dit dikwels die kommunikasiespan wat eerste reageer. Dit verg kalmte, oordeelkundigheid en vinnige maar verantwoordelike optrede om die krisis te bestuur.
  4. 4. Mediahantering en -skakeling: Goeie mediaverhoudinge behels om te weet hoe om ʼn storie te vertel wat aanklank by joernaliste vind – en hoe om te reageer wanneer ʼn storm op sosiale media losbars. Bly dus op hoogte van nuusgebeure en wees ingelig oor hoe om doeltreffend met die media te skakel.
  5. 5. Skryfvaardighede: Of jy nou webinhoud skep, ʼn video konseptualiseer of ʼn artikel skryf – skryf bly die spilpunt waarom alles draai. Hou dus jou skryfvaardighede skerp.
  6. 6. Digitale vaardighede: Vandag is elke kommunikasiestrategie digitaal verweef. Kennis van betaalde media, “targeted audiences”, “search engine optimisation” (SEO) en data-ontleding is nie meer opsioneel nie – dit is noodsaaklik.
  7. 7. Empatie en emosionele insig: “Daar is emosie en gedragspatrone aan kommunikasie en bemarking gekoppel, en kunsmatige intelligensie (KI) kan dit nog nie voorspel nie. Ek sê altyd KI is ʼn goeie beginpunt, maar ons moet daarteen waak om alles aan KI oor te laat en bloot die produk daarvan as finaal te aanvaar,” sê Lindie. Dit is dus belangrik om te weet hoe om KI te gebruik, maar ook hoe om dit reg te gebruik en nie te misbruik nie.
  8. 8. Leergierigheid: “Leer. Leer. Leer,” sê Lindie. “Dit is belangrik om te verstaan dat jy nie as ʼn kommunikasiekundige in ʼn strategiese rol begin nie. Jy moet daai kennis in die veld opbou – oor mense en oor hoe om te evalueer – voordat jy daarby kan uitkom.” Met nuwe tegnologie, platforms en tendense wat elke dag na vore kom, is stagnasie nie ʼn opsie nie.

Kommunikasie is ʼn brug

Kommunikasiekundiges bou brûe tussen bestuur en personeel, tussen ʼn produk en sy verbruiker, asook tussen ʼn maatskappy en die breër gemeenskap. Hulle is die vertalers van visie na aksie en dra die hart van enige organisasie.

Solidariteit bied meer as 150 kursusse vir voortgesette leer wat jou kan help om jou volle potensiaal in jou loopbaan te bereik. Die kursusse is in Afrikaans beskikbaar en Solidariteit-lede kan dit gratis voltooi. Lees hier meer oor hierdie voordeel en hoe jy jou vaardighede kan slyp.

Jy hoef nie in ʼn bestuursrol te wees om ʼn impak as ʼn kommunikasiekundige te maak nie. As jy die regte vaardighede ontwikkel, kan jy ʼn betekenisvolle verskil in enige rol maak. Of jy nou ʼn jong kommunikasiepraktisyn is wat pas met jou loopbaan begin het of al jare in die bedryf is – dit is nooit te laat om jou vaardighede te slyp nie. Lewenslange leer is nie net voordelig nie; dit is noodsaaklik.

Jóú beroepstuiste

Die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk is ʼn gemeenskap van kommunikasiepraktisyns wat saam leer, mekaar ondersteun en mekaar help groei. Kry toegang tot werkwinkels, mentorskap, vaardigheidsontwikkeling, netwerkgeleenthede en vele meer.

Klik hier en raak vandag nog deel van jóú beroepstuiste!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel