loading
Artikels
1 dag gelede
van-plan-tot-aksie-n-kommunikasiestrategie-en-die-rol-van-n-kommunikasiekundige

Foto Krediet: Okay Deer

Van plan tot aksie: ʼn Kommunikasiestrategie en die rol van ʼn kommunikasiekundige

Kommunikasie is nie net ʼn plakkaat teen die muur of ʼn plasing op Facebook nie – dit is ʼn strategiese funksie wat direk tot ʼn maatskappy se doelwitte én sukses bydra. Die vraag is nie meer hoe ʼn maatskappy kommunikeer nie, maar hoe slim en doelgerig daardie kommunikasie is.

Die doel van ʼn kommunikasiestrategie

“Die belangrikste van ʼn kommunikasiestrategie binne ʼn maatskappy is om die regte boodskap, op die regte tyd, deur die regte kanaal en aan die regte mense oor te dra,” sê Lindie de Beer, hoof van Solidariteit se kommunikasie- en bemarkingsafdeling. Volgens haar lê die kruks van enige suksesvolle strategie in die vermoë om te kan evalueer: Wat werk? Wat werk nie – en waarom?

Strategiese kommunikasie is dus doelgerig en meetbaar. Dit begin nie by mooi woorde nie, maar by die maatskappy se kernwaardes en langtermyndoelwitte. Die uiteindelike doel? Om mense te motiveer om tot aksie oor te gaan – van eerste blootstelling tot langtermynlojaliteit.

“Die hoofdoel van ʼn kommunikasiestrategie is om mense aan jou produk of jou diens bekend te stel,” sê Lindie. “Jou werk moet dus van so ʼn aard wees dat jy ʼn lojale kliëntebasis bou en handhaaf – dan weet jy jou kommunikasiestrategie is suksesvol.”

Hoe lyk suksesvolle kommunikasie?

ʼn Goeie voorbeeld van suksesvolle kommunikasie is Solidariteit se digitalemedia-kommunikasiestrategie, wat jare gelede ʼn nuwe speelveld betree het – veral destyds vir ʼn tradisionele vakbond. “Ons moes leer om met dinge soos betaalde media, “targeted audiences” en Google Search te werk – iets wat tien jaar gelede vir ons splinternuut was,” vertel Lindie. Vandag vorm die digitale strategie die kern van Solidariteit se kommunikasie- en bemarkingstrategie: aanpasbaar, meetbaar en voortdurend aan die verander.

Hierdie voorbeeld illustreer presies wat suksesvolle kommunikasie moet toon: groei, aanpassing en impak wat verder strek as oppervlakkige betrokkenheid. Doelstellings kan aangepas word namate konteks verander, maar as jou kommunikasie in ʼn duidelike strategie geanker is, het jy ʼn goeie platform om vanaf te werk.

ʼn Strategiese kommunikasiekundige kan wys hoe betrokkenheid tot aksie lei – en hoe aksie tot resultate lei.

Die rol van ʼn kommunikasiekundige

Daar bestaan steeds wanopvattings oor die rol van kommunikasiekundiges. “Dit is nie net ‘PR’ of ‘mooi praat’ nie,” sê Lindie. Of dit nou skryfwerk, ontwerp, videoproduksie, sosiale media, interpersoonlike vaardighede of selfs tegniese insigte soos webontwikkeling of data-ontleding behels, die werklikheid is dat ʼn kommunikasiekundige voortdurend moet leer om ʼn uiteenlopende vaardigheidstel te ontwikkel.

Lees hier meer oor die rol van ʼn kommunikasiekundige en wat dit beteken om ʼn suksesvolle kommunikasiekundige te wees.

In ʼn era van kunsmatige intelligensie (KI) en voortdurende verandering in die digitale wêreld, is voortgesette leer ononderhandelbaar. “Daar is elke dag iets nuuts,” sê sy. “KI kan help, maar dit vervang nie menslike insig en emosie nie.” Daarom bly teoretiese kennis, kritiese denkvermoë en insig in menslike gedrag die grondslag van ʼn goeie kommunikasiekundige.

Solidariteit bied meer as 150 kursusse vir voortgesette leer – alles in Afrikaans en heeltemal gratis vir Solidariteit-lede. Klik hier vir meer inligting oor hoe jy danksy voortgesette leer jou volle potensiaal as kommunikasiekundige kan bereik.

Bemagtig jouself as ʼn kommunikasiekundige

Kommunikasie gaan nie net oor ervaring nie – dit gaan oor strategie, vaardigheid en leer. Sluit aan by die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk en ontdek hoe jy deur netwerkgeleenthede, mentorskap en kursusse jou loopbaan na die volgende vlak kan neem.

Berei jou voor om meer as net ʼn boodskapper te wees – word ʼn strategiese denker in jou organisasie!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel