
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Hier is wat Solidariteit nóú omtrent die NGV doen
Toe die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in Mei 2024 deur pres. Ramaphosa bekragtig is, het Solidariteit onmiddellik regstappe ingestel en hofstukke ingedien om die wetgewing te betwis. Tot op hede wag Solidariteit se regspan vir die regering om met hulle opponerende dokumente vorendag te kom, maar die regering het reeds vier keer uitstel gevra vir die indien van die dokumente.
Sedert pres. Cyril Ramaphosa die wet op 15 Mei onderteken het, het Solidariteit ‘n dringende aansoek by die hof ingedien om die implementering van die NGV tydelik te stop totdat die saak volledig aangehoor is.
Alhoewel gesamentlike litigasie aanvanklik as die doeltreffendste strategie beskou is om die NGV te stuit, het Solidariteit ná uitgebreide konsultasies met verskeie ander betrokke organisasies, soos Business Unity South Africa (Busa) en die Raad van Gesondheidsbefondsers, besluit dat afsonderlike hofsake deur elke party aanhangig gemaak moet word. Hierdie benadering stel elke organisasie in staat om die NGV met verskillende perspektiewe te takel, wat die saak meer omvangryk maak.
Op die politieke front het Solidariteit die afgelope jaar aktief gesprekke met verskeie politieke partye gevoer, waaronder die Demokratiese Alliansie (DA), Vryheidsfront Plus, ACDP, IVP en ActionSA. Hulle het almal hul standpunt teen die NGV duidelik gestel. Tog het baie van hierdie partye besluit om verdere aksie uit te stel tot die NGV-regulasies gepubliseer word, waarna hulle eers hul onderskeie stappe sal oorweeg.
Op hierdie tydstip is Solidariteit die enigste organisasie wat reeds sy volledige saak aanhangig gemaak het. Hierdie vroeë druk is uiters belangrik. Die regspan, wat bestaan uit top-advokate met ondervinding in soortgelyke sake, is besig om die saak deeglik voor te berei. Solidariteit bly vasberade om die NGV te stuit en werk voortdurend saam met sy regspan om te verseker dat die saak die beste moontlike kans op sukses het.
Die uiteindelike doel is om ‘n skikking te bereik waarmee die NGV-wet herroep word en vervang word met ‘n nuwe stelsel wat gesondheidsorg bekostigbaar maak vir alle werkende Suid-Afrikaners. Die bekostigbaarheid is immers iets wat ons almal raak.
Tog moet die sterkpunte van die huidige privaat gesondheidsorgstelsel behou word. Solidariteit is vasbeslote om hierdie stryd met alles in sy vermoë voort te sit, selfs al neem dit jare om die regte beslissing te kry.