loading
Artikels
2 dae gelede
hoe-gemaak-met-n-toksiese-baas-werkbeskerming

Foto Krediet: OkayDeer

Hoe gemaak met ʼn toksiese baas?

Deur Nico Strydom

Toksiese bestuurders of werkgewers kan ʼn vernietigende impak op ʼn organisasie en sy werknemers hê.

ʼn Peiling oor toksiese werkplekke wat op FlexJobs gebubliseer is, het bevind dat amper 90% van mense al minstens een toksiese bestuurder in hul loopbaan gehad het. Daar is bevind dat toksiese bestuurders nie net algemeen in die werkplek voorkom nie, maar dat hulle ook nie verantwoordbaar vir hul aksies gehou word nie.

Daar is verskeie tekens wat daarop kan dui dat jy ʼn toksiese bestuurder het. Toksiese bestuurders luister nie na hul werknemers nie; mikrobestuur werknemers; moedig nie groei aan nie; laat hul werknemers onseker voel; het onredelike verwagtinge; en verneder werknemers voor hul kollegas. Dié bestuurders toon narsistiese en outoritêre gedrag en is onvoorspelbaar. Hul gedrag benadeel werknemers se betrokkenheid, produktiwiteit en welstand.

Werknemers wat onder ʼn toksiese bestuurder werk, is meer geneig tot uitbranding en dit het ook ʼn groot invloed op werkstevredenheid en motivering. Dit kan ook lei tot ʼn afname in selfvertroue en betrokkenheid, en werknemers wat onder so ʼn baas deurloop, sien daarna op om werk toe te gaan. Verhoogde angs en geestelike uitputting is nog twee van die ernstige gevolge.

Toksiese bestuurders het egter nie net ʼn invloed op werknemers nie, maar kan ook hul organisasies duur te staan kom. Dit kan onder meer lei tot hoë personeelomset, lae moraal, verhoogde stres en angs in die werkplek, ʼn kultuur van vrees en verminderde prestasie.

Die FlexJobs-peiling het onder meer bevind dat amper die helfte van mense wat onder ʼn toksiese bestuurder werk, uiteindelik bedank het om uit die situasie te ontsnap. Die ander wyse waarop mense die kwessie probeer hanteer, sluit onder meer in om direk terugvoer aan hul bestuurder of mensehulpbronafdeling te gee, maar dit word dikwels afgemaak of geïgnoreer. Dit lei ook dikwels tot “quiet quitting,” oftewel stille bedanking, wat behels dat mense nie bedank maar glad nie meer bereid is om die ekstra myl vir hul werk te stap nie.

Wat staan ʼn werknemer dan te doen indien hy of sy ʼn toksiese bestuurder het? Jou bestuurder besef dalk nie noodwendig dat hy of sy toksiese gedrag aangeneem het nie. Die eerste stap sal wees om ʼn gesprek met jou bestuurder te hê, en jy sal uit hul reaksie kan aflei of hulle dit besef of nie, en of hulle bereid is om iets daaraan te doen. Indien die situasie nie op dié wyse beredder kan word nie, kan jy met ʼn ander bestuurder of mensehulpbronbeampte in gesprek tree om die situasie te probeer oplos.

Solidariteit beskerm sy lede teen diskriminasie, wanpraktyke en uitbuiting in die werkplek. Solidariteit verskaf gratis regsverteenwoordiging aan sy lede ten opsigte van beroepsverwante sake wat na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) of die arbeidshof verwys word. Solidariteit-lede ontvang ook gratis regsadvies. Solidariteit bied telefoniese sivielregtelike en arbeidsverwante regshulp. Indien jy nog nie ʼn lid van Solidariteit is nie, klik hier om binne ʼn minuut aan te sluit.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel