loading
avatar
Artikels
2 dae gelede
hoe-rooiseelkrisis-n-jong-sweiser-sy-droomwerk-gekos-het

Foto Krediet: Verskaf

Hoe rooiseëlkrisis ʼn jong sweiser sy droomwerk gekos het

Leré Nel

Op die oggend van 18 Oktober 2025 land die 23-jarige Cecil Kroucamp se vliegtuig in Nieu-Seeland. Vandat hy 10 jaar oud is, droom hy daarvan om in dié mooi land te woon en te werk. Hy het die geld wat hy tydens sy vakleerlingskap – oftewel sy appieship – verdien het, gebruik om sy vliegkaartjie te koop.

Toe hy deur die lughawe se hekke stap, omhels hy sy ma en sussie, wat reeds in Auckland woon. Min weet hy wat vir hom voorlê.

Cecil is ʼn sweiser. ʼn Plat-op-die-aarde jongman van Nelspruit wat van kleins af nie kon stilsit nie. Hy is mal daaroor om met sy hande te werk, en niemand was verbaas toe hy ná skool besluit het om ʼn ambag te doen nie.

Hy het in Suid-Afrika sy teoretiese en praktiese opleiding voltooi, sy vakleerlingskap afgehandel en sy vaktoets in September 2025 geslaag. As sy rooiseëlsertifikaat betyds uitgereik was, sou hy reeds teen die einde van September –  21 dae ná sy vaktoets – as ʼn sweiser in Suid-Afrika én Nieu-Seeland kon begin werk het.

Foto: Verskaf

Maar vandag, amper ʼn jaar later, is hy steeds in Nieu-Seeland sonder werk. Nie omdat hy nie werk soek nie – hy het reeds honderde CV’s uitgestuur – maar omdat hy nie kan bewys dat hy gekwalifiseerd is nie.

“Ek kan al my puntestate vir werkgewers wys,” sê Cecil. “Ek kan vir hulle e-posse wys waarin die opleidingsentrum bevestig dat ek my opleiding daar voltooi het. My vorige werkgewer in Suid-Afrika kan met verklarings bevestig dat ek my rooiseël het. Sonder die fisiese sertifikaat beteken dit alles niks nie. Hulle mag my wettiglik nie aanstel nie.”

Hy vertel dat sy enigste oorblywende opsie sou wees om sy kwalifikasie in Nieu-Seeland oor te doen – iets wat hom minstens R250 000 uit die sak sou jaag. Op dié stadium was dit eenvoudig nie ʼn opsie nie.

Weke en maande van herhaaldelike navrae aan die Gehalteraad vir Ambagte en Beroepe (QCTO) in Suid-Afrika het niks opgelewer nie. Vyf werkaanbiedinge – góéie werkaanbiedinge – het intussen gekom en gegaan.

“Daai rooiseël; daai laaste stukkie papier…” sê hy moedeloos. “Alles het tot ʼn stilstand gekom as gevolg van daai stuk papier. Dit maak nie saak hoe graag hulle my wil aanstel nie – hulle kan nie. Hulle mag nie.”

Cecil het intussen alles gedoen wat hy kon. Hy het besluit om sewe sogenaamde “trade-ready tickets” in Auckland te voltooi sodat hy ten minste iets agter sy naam kon hê. Dit is gelykstaande aan ʼn rooiseëlkwalifikasie en natuurlik ook nie goedkoop nie.

Steeds kon hy nie bewys dat hy oor twee jaar se werkervaring én ʼn rooiseëlkwalifikasie beskik nie. Intussen het die tyd op sy visum al hoe minder geraak.

Foto: Verskaf

Een middag, raadop, lees hy ʼn berig op Maroela Media raak: “Solidariteit nader hof oor rooiseëlkrisis vir ambagslui”. Toe dink hy aan al sy ambagsvriende in Suid-Afrika wat in presies dieselfde penarie verkeer, en besluit toe dat hy niks het om te verloor nie.

Etlike dae nadat hy die Solidariteit Ambagnetwerk se regspan gekontak het, het Solidariteit besluit om namens Cecil te litigeer.

“Drie dae voordat die hofverrigtinge moes begin, het die QCTO sommer al my rooiseël aan Solidariteit se regspan oorhandig,” vertel Cecil. “Hulle het dit dadelik vir my Nieu-Seeland toe gepos. Wanneer ek die fisiese sertifikaat het én ʼn bevestigingskakel van die QCTO ontvang, sal ek uiteindelik met sukses ʼn werk kan kry.”

“Sonder Stef-hulle wat namens my gelitigeer het, sou hierdie ding nou nog steeds stilgestaan het,” sê hy verder met verwysing na Stef Pretorius, koördineerder van Solidariteit se Ambagnetwerk. “Ek sou nou nog nie my rooiseël gehad het nie.”

“Dis ook nie net ek nie,” voeg hy by. “Al my vriende wat saam met my studeer het, werk steeds by die ondernemings waar hulle hul appieship voltooi het. Al is hul appieship lankal verby, werk hulle steeds teen minimum betaling omdat hul werkgewer hulle wettiglik nie meer hoef te betaal sonder ʼn rooiseël nie.

“Hulle kan ook nie ʼn beter werk kry of meer betaal word nie. Hulle kan nie die leer klim nie. Ons is almal in ʼn doodloopstraat. Ons loopbane staan stil.”

Benewens die groot finansiële verlies, frustrasie, spanning en moedeloosheid, was die swaarste deel vir Cecil dat hy ʼn uitstekende werkgeleentheid verloor het – net drie dae voordat hy uiteindelik sy sertifikaat ontvang het.

“Dit was ʼn uitstekende onderneming in ʼn prentjiemooi area, Wānaka. Ek het die werk gehad. Die kontrak was geteken. ʼn Vyfjaarkontrak. Maar hulle moes die aanbod onttrek,” vertel hy.

“Die ander ding is natuurlik die geld,” sê hy. “Huur, prokureursfooie en die kwalifikasies wat ek moes oordoen, het my nagenoeg R500 000 uit die sak gejaag.”

“Die wag is erg. Jy wíl werk, maar kan nie. Om by die huis te sit is erg. Maar die ergste is die feit dat ek nou al verskeie werkaanbiedinge verloor het.”

Ten spyte van alles bly Cecil positief. Soos ʼn goeie ambagsman laat hy hom nie maklik onderkry nie.

“Die geveg is nog nie verby nie,” sê hy. “Ek pak nou die hele werksoekproses van vooraf aan. Maar ek is nou in ʼn baie beter posisie as voorheen. As ek vyf ondernemings kon oortuig om my aan te stel sonder my sertifikaat, dan behoort dit met my sertifikaat glad nie té moeilik te wees nie.”

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel