
Foto Krediet: Karolina Grabowska
Gekopieër
Hof toe oor NGV
Solidariteit het vandag aangekondig dat hy vir ʼn groot hofsaak teen die regering se planne vir nasionale gesondheidversekering voorberei. Dit volg nadat die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) gister in die parlement goedgekeur is.
Volgens Solidariteit sal die nuutste wetgewing sonder twyfel in die hof uitgedaag word. Solidariteit se kommentaar op die voorgestelde wet is reeds in die vorm van regstukke opgestel en sy regspan is opdrag gegee om met voorbereiding vir ʼn hofsaak te begin.
“Ons het van die begin af besef die NGV gaan waarskynlik in die hof getoets word. Die regering se planne om gesondheidsorg te kaap, is onbekostigbaar en onuitvoerbaar. Dit gaan tot ʼn groot uitvloei van gesondheidspraktisyns uit die land uit lei,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
Solidariteit het aan al die openbare deelnameprosesse deelgeneem en het reeds verskeie oorwinnings in die hof teen die NGV behaal. Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het ook omvattende navorsing in die mediese sektor gedoen wat toon dat die aanvaarding en implementering van die NGV tot ʼn massiewe uittog van medici uit die land sal lei.
“Die regering het reeds met die openbare gesondheidsorgstelsel misluk en wil nou op nóg ʼn groter skaal misluk. Hy het ʼn geskiedenis van mislukking van staatsondernemings en daar is geen rede om te glo die voorgestelde NGV gaan nie ook tot groot nadeel van Suid-Afrikaners wees nie. Ons kan die regering nie vertrou nie en ons kan ons medici en ons gesondheid nie aan hul hande oorlaat nie. Dit gaan reusehofstryd wees,” sluit Hermann af
Lees meer hier oor die kostes van die NGV of hier vir medici se kommer oor die NGV.