
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Hoop in donker tye: Solidariteit staan jou by tydens afleggings
Wanneer afleggings dreig en onsekerheid jou oorweldig, is Solidariteit aan jou sy om jou te ondersteun – van regsadvies en skeidingspakkette tot werksgeleenthede en finansiële leiding. Met bystand wat selfs ná aflegging voortduur en ʼn verskeidenheid opleidingsgeleenthede om jou loopbaan te versterk, hoef jy nie alleen deur donker tye te gaan nie. Lees hier meer oor hoe Solidariteit jou kan help om sterker uit die storm te kom.
Deur Kyla-Ann du Toit
Wanneer die wolke van onsekerheid saampak en jou werk in die weegskaal is, is daar iets wat jy moet weet: Jy hoef nie alleen te veg nie! Solidariteit is daar om jou by te staan – van die eerste gevoel van onsekerheid tot by die heropbou van jou loopbaan.
Veg vir jou belange
Afleggings is ʼn harde realiteit, maar Solidariteit se span is reg om namens jou te veg. Die eerste stap is om alles moontlik te doen om afleggings te verhoed. Indien dit onvermydelik is, sal Solidariteit se kundige regsverteenwoordigers alles in die stryd werp om die impak daarvan te versag en die beste moontlike skeidingspakket vir jou te beding.
Kommunikasie is die sleutel in tye van onsekerheid. Weet wie jou Solidariteit-verteenwoordiger in die werkplek is en sluit aan by die kommunikasiegroepe. Solidariteit hou jou op hoogte van elke stap en elke ontwikkeling, sodat jy nooit in die duister is nie.
Bystand wat jy verdien
As jy jou werk verloor, is dit nie net ʼn pos wat verdwyn nie – dit raak jou hele lewe. Daarom behou Solidariteit jou lidmaatskapvoordele vir drie maande ná jou laaste betaling, insluitend die begrafnisvoordeel. Ons weet dat daardie tydperk jou die kans gee om weer jou voete te vind.
Werk: ʼn nuwe toekoms
Die werklikheid ná aflegging kan skrikwekkend wees, maar dit hoef nie so te wees nie. Solidariteit se aanlyn werkfasiliteringsplatform is daar om weer die pad vorentoe vir jou aan te dui. Nuwe werksgeleenthede word daagliks gepubliseer en ons help jou om ʼn professionele CV op te stel wat jou kanse op sukses verhoog.
Leer: bou aan jou toekoms
Om jouself te bemagtig is een van die beste geskenke wat jy vir jouself kan gee. Solidariteit bied nagenoeg 150 aanlyn kursusse om jou vaardighede op te skerp en jou indiensneembaarheid te verbeter. Of jy nou oor nuwe tegnologieë wil leer of jou bestaande kennis wil verdiep – daar is iets vir elke beroep.
Finansiële bystand
Dit kan oorweldigend wees om ʼn skeidingspakket te ontvang, veral as jy onseker is oor hoe om die geld verstandig te bestuur. Of dit nou gaan oor die bestuur van jou geld of om te beplan vir jou toekoms, Solidariteit Finansiële Dienste is hier om jou te help om die beste besluit te neem.
Solidariteit is daartoe verbind om sy lede by te staan om hierdie onsekerheid te trotseer. Dit is baie belangrik om jou gratis profiel op die platform, Solidariteit, te registreer en om te verseker dat jou lidmaatskap geldig is sodat jy as lid die volle voordele van Solidariteit se bystand en ondersteuning kan geniet.
Kontak ons vandag en maak seker jou lidmaatskap is op datum. Bel die Solidariteit Dienssentrum by 0861 25 24 23 of besoek ons aanlyn. Ons veg vir jou, ons ondersteun jou, en ons help jou om sterker uit die storm te kom. Jy is nie alleen nie!