
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Jong mense: Doen jou deel en stem in die verkiesing
Deur Heléne Leonard
Die 2024-verkiesing in Suid-Afrika is om die draai en miljoene jong mense is steeds nie geregistreer om vanjaar te stem nie.
Om aan ʼn demokratiese verkiesing te kan deelneem is een manier om jou toekoms in jou eie hande te neem. Deur jou stem tydens 2024 se verkiesing te laat hoor, neem jy deel aan ʼn klein stukkie van Suid-Afrika se toekoms.
Talle jong mense voel “moedeloos en hulpeloos”, maar beryp ook nie die burgerlike plig wat tydens ʼn verkiesing op hulle rus nie. Om te kan stem is ʼn manier waarop jy jou sê kan sê oor die gebeure in die land. Elke stem tel, en dit is ‘n geleentheid om jou waardes, hoop en drome vir Suid-Afrika uit te druk.
Demokrasie is ‘n seldsame juweel wat ons as Suid-Afrikaners het. Dit gee ons die reg om vrylik te besluit wie ons kies om ons land te regeer en om ons regte en vryhede te beskerm. Deur aan verkiesings deel te neem, versterk ons hierdie demokratiese proses en bevestig ons ons verbintenis tot ‘n vry en regverdige samelewing.
Jong mense het die krag om enorme verandering mee te bring. Ons het die energie, die idees en die passie om ‘n beter Suid-Afrika te bou. Deur te stem bring ons ons stemme na die voorgrond en eis ons ‘n regverdige, inklusiewe samelewing waar elkeen geleenthede het.
Stemlokale sal regoor die land beskikbaar wees om almal die geleentheid te gee om aan hierdie belangrike proses deel te neem. Hou ‘n oog op plaaslike kennisgewings vir spesifieke inligting oor stemplekke in jou omgewing. Die laaste registrasienaweek vind vanaf 2 tot 4 Februarie plaas, en hierdie naweek is jong mense se laaste kans om deel te vorm van die toekoms van Suid-Afrika deur te registreer.
As jong Suid-Afrikaners het ons ‘n verantwoordelikheid om aan ons land se demokratiese proses deel te neem. Ons kan nie wag vir ander om die verandering te bring wat ons wil sien nie; ons moet self die krag van ons stemme gebruik om ‘n beter toekoms te bou. Die 2024-verkiesing is ons geleentheid om ons stemme te laat hoor en ‘n merkbare impak te maak.
Dus, gaan registreer om te stem, wees ‘n aktiewe deelnemer aan ons demokrasie en help om ‘n Suid-Afrika te bou waarop ons almal trots kan wees om in te leef. Klik hier vir meer inligting oor 2024 se verkiesing.