
Foto Krediet: Verskaf (Solidariteit Skoleondersteuningsentrum)
Gekopieër
Jóú Boufonds-bydrae maak ʼn verskil in ons kinders se toekoms
Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het ʼn vennootskap met Stimulus Maksima aangekondig wat ten doel het om leerders se leesvaardighede te verbeter en só aan hulle ʼn beter geleentheid te bied om hul volle potensiaal te bereik. Solidariteit glo in die waarde van kennis en vaardighede in ons kinders se lewens, en daarom ondersteun ons hierdie nuwe inisiatief. Lees meer hier.
Deur Kyla-Ann du Toit
Het jy geweet dat 81% van graad 5-leerders nie met begrip kan lees nie, terwyl slegs 17% van graad 3-leerders op hul voorgeskrewe ouderdomsvlak lees? Suid-Afrikaanse kinders se onvermoë om te lees is ʼn nasionale krisis, en daarom het die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) op 4 Maart 2025 ʼn strategiese vennootskap met Stimulus Maksima aangekondig. Hierdie ooreenkoms sal ʼn belangrike bydrae tot die ontwikkeling en meting van leerders se leesbegrip lewer.
Die SOS is van mening dat miljoene kinders se opvoeding en toekoms in die weegskaal sal bly sonder ʼn doelgerigte strategie om leesonderrig te verbeter. Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS, beklemtoon die kritieke rol van lees in akademiese en persoonlike sukses. “Lees is die sleutel tot akademiese sukses. Deur deeglike assessering met doelgerigte intervensies te kombineer, gee ons elke leerder ʼn beter kans om sy of haar volle potensiaal te bereik,” sê hy. “Hierdie vennootskap help ons om akademiese prestasie te verbeter en dra by tot die ontwikkeling van die geheelkind. Leerders word toegerus met die vaardighede en selfvertroue om sukses te behaal in ʼn snelveranderende 21ste eeu.”
Die SOS se vennootskap met Stimulus Maksima
Stimulus Maksima se toetsinstrumente sal gebruik word om leerders se leesvaardighede te bepaal en hul vordering oor tyd te monitor, wat onderwysers in staat sal stel om gerigte ondersteuning te bied. “Dit het tyd geword dat ons deur middel van beproefde meetinstrumente die ware toestand van leesvaardighede in die land openbaar en dan gefokusde oplossings implementeer,” sê Lotta Engelbrecht, uitvoerende hoof van Stimulus Maksima. “Sonder meting is pogings om lees te verbeter ongekoördineerd en oneffektief.”
Die SOS se samewerking met Stimulus Maksima vorm deel van hulle Intelligensiesentrum, wat daarop gemik is om elke leerder se vermoëns akkuraat te bepaal en doelgerigte intervensies te implementeer – ʼn noodsaaklike stap in die bou van ʼn sterker toekoms vir ons kinders.

Hierdie vennootskap verseker dat skole toegang het tot beproefde metodes en hulpmiddels om leesonderrig te verbeter. “Ons weet ons het ons doelwit bereik wanneer ons kinders ons as ouers oortref. Ons wil graag elke kind toerus om ʼn toereikende vlak van leesvaardigheid te bereik. Sodra hulle die leerinhoud van ʼn graad kan ontsluit, kan hulle dit bemeester,” sê Engelbrecht.
Die vennootskap tussen die SOS en Stimulus Maksima het ten doel om ʼn generasie van sterker, slimmer en meer veerkragtige leerders te skep. Deur doelgerigte optrede en slim samewerking kan Suid-Afrika uiteindelik ʼn toekoms bou waar elke leerder hul volle potensiaal bereik.

Raak betrokke
Solidariteit glo dat kennis die beste manier is om sy lede in die nuwe, onsekere ekonomie te beskerm. As ʼn lid van Solidariteit se Boufonds dra jy maandeliks by tot hierdie inisiatiewe en los jy jou merk in die geskiedenis om die volgende generasie te bemagtig. Solidariteit het die uitdagings in ons land raakgesien en besluit om iets positiefs daaraan te doen, met jóú hulp. Daarom is Solidariteit daartoe verbind om na die behoeftes van sy mense om te sien deur die volgende generasie met die nodige kennis en vaardighede te bemagtig. Die Boufonds stel Solidariteit in staat om instellings soos die SOS en sy inisiatiewe te ondersteun.
Raak vandag nog betrokke en help om ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms vir jou én jou nageslag te verseker. Maak ʼn blywende verskil in die lewens van ons kinders!