Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Lid van teenbende-eenheid ontvang R365 000 ná bevorderingstwis
Deur Heléne Mocke
Solidariteit het onlangs nog ʼn oorwinning namens ʼn lid behaal in die saak van kol. Willie Joubert teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Die geskil het ontstaan nadat Joubert, ʼn werknemer van die teenbende-eenheid, onbillik uitgesluit is van die kortlys vir ʼn bevorderingspos waarvoor hy duidelik gekwalifiseerd is.
Joubert het aansoek gedoen om die posisie van provinsiale bevelvoerder van die moord- en roofeenheid, maar is nie oorweeg nie. Dit ondanks sy kwalifikasies en ervaring wat hom die beste kandidaat vir die pos gemaak het. Tydens arbitrasie het dit geblyk die SAPD teenstrydig met hul eie nasionale instruksies opgetree het en nie hul eie riglyne van regverdigheid en objektiwiteit in die kortlysproses toegepas het nie.
Die saak is voor die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) aangehoor, waar Solidariteit suksesvol aangevoer het dat die SAPD se behandeling van Joubert inderdaad onregverdig was. Die KVBA het Solidariteit se argumente aangehoor en beslis die SAPD se verweer met betrekking tot kwalifikasies, ervaring en die implementering van hul beroepsgelykheidsplan, was ontoereikend.
As gevolg hiervan is ʼn bedrag van ongeveer R365 000, gelykstaande aan ses maande se salaris in die bevorderingspos, aan kol. Joubert toegeken.
“Ons is dankbaar vir dié sukses en gereed om verder daarop voort te bou. Mense moet dit nie bloot aanvaar as so iets in die werkplek gebeur nie en Solidariteit se litigante staan gereed om lede te help en by te staan gedurende arbeidsregtelike kwessies,” sê Mariëtte Redelinghuys, regsbeampte by Solidariteit.
Redelinghuys sê voorvalle soos dié van Joubert kom meer algemeen voor as wat mense dink. Lees ook hier meer oor Solidariteit se saak teen die SAPD vroeër vanjaar.
Hierdie oorwinning bevestig weereens Solidariteit se verbintenis om sy lede te beskerm teen onregverdige arbeidspraktyke en verseker dat geregtigheid in die werkplek geskied.
Sluit vandag nog by Solidariteit aan en verseker jouself van beskerming in jou beroep.