Fotokrediet: Verskaf
Gekopieër
‘Luister na mediese fondse se pleidooi,’ sê Solidariteit aan regering
Solidariteit doen ʼn beroep op die regering om dringend beleidshervorming te oorweeg wat mediesefondsdekking meer bekostigbaar maak én deelname aan mediese fondse aansienlik verbreed.
Die oproep volg nadat navorsing in opdrag van die Health Funders Association (HFA) bevind het dat mediesefondsbydraes met tot 30% kan daal indien lidmaatskap verpligtend gemaak word vir mense wat bo die belastingdrempel verdien.
Die HFA beraam dat sowat 8,7 miljoen jonger, gesonder belastingbetalers só by mediese fondse gevoeg kan word.
Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), stem die beginsel sterk ooreen met hervormings wat Solidariteit reeds in sy alternatiewe wetsontwerp voorstel, wat hy vroeg in 2025 uitgereik het.
“Die probleem is dat jonger en gesonder mense toenemend uit die mediesefondsmark geprys word.
“Dit laat ʼn kleiner, ouer en duurder risikopoel agter, wat premies verder opstoot en nóg mense uit die stelsel dwing. Dit is ʼn vernietigende spiraal wat dringend gebreek moet word,” sê Du Buisson.
SNI se alternatiewe wetsontwerp maak voorsiening vir verpligte mediesefondslidmaatskap vir werknemers, maar koppel dit aan bekostigbare, inkomstegebaseerde voordeelopsies.
Elke fonds sal minstens twee sulke inkomstegebaseerde opsies moet aanbied. Die koste word volgens die voorstel tussen die werknemer, werkgewer en die bestaande mediesefondsbelastingkrediet verdeel.
“Jy kan nie mense bloot verplig om ʼn produk te koop wat hulle nie kan bekostig nie. Die twee hervormings moet hand aan hand gaan om dekking bekostigbaar te maak en sodoende deelname te verbreed.
“ʼn Groter poel jonger en gesonder lede kan koste vir bestaande lede verlaag én miljoene mense uit die oorlaaide openbare gesondheidstelsel haal,” sê Du Buisson.
Du Buisson sê verder dat mediese fondse uiteindelik aan hulle lede behoort en dat ʼn stelsel wat fondse al hoe duurder en minder toeganklik maak, juis dié lede benadeel.
Die HFA waarsku dat al hoe meer jonger en gesonder mense die mediesefondsmark verlaat, wat ʼn toenemend ouer en duurder ledeprofiel tot gevolg het en verdere druk op premies plaas.
“Ons hoef nie miljarde rande te bestee om ʼn totaal nuwe staatsbeheerde gesondheidstelsel te skep nie.
“Daar is ʼn werkbare alternatief. Dit is om die stelsel wat ons reeds het te hervorm en om privaat gesondheidsorg vir meer mense bekostigbaar te maak. Dit verlig terselfdertyd die druk op openbare hospitale,” verduidelik Du Buisson.
Sien SNI se alternatiewe wetsontwerp hier aangeheg.