
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Ministers, president gaan self moet opdok vir NGV
Solidariteit se regstryd teen die vernietigende Nasionale Gesondheidsversekeringswet (NGV) het binne die eerste uur nadat pres. Cyril Ramaphosa dié wetsontwerp onderteken het, begin. As ʼn eerste stap is die regering formeel aangemaan om nie die NGV te implementeer nie.
Solidariteit sal pres. Cyril Ramaphosa, sowel as die minister van finansies en minister van gesondheid, persoonlik aanspreeklik hou vir die gevolge van die NGV.
Dit is reeds duidelik gemaak dat die NGV onbekostigbaar én onwerkbaar is, en dat die NGV ongekende skade aan belastingbetalers sal berokken, uit wie se sak die befondsing vir dié plunderfonds geëis sal word.
Solidariteit sal voortaan ook aanspreeklikheid eis van die nasionale tesourie, die departement van gesondheid én die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) wat almal vir die totstandbringing van die NGV verantwoordelik is.
Volgens die regering sal die NGV ʼn fonds wees waaruit die regering gesondheidsorgdienste vir Suid-Afrikaners by gesondheidsorgverskaffers in die openbare en privaat sektor sal koop. “Dit is ʼn fonds om vir gesondheidsorg te betaal, en almal van ons sal tot hierdie fonds bydra deur belasting en spesiale bydraes in ooreenstemming met dit wat ons kan bekostig. Dit sal verseker dat almal geregtig is op gratis gesondheidsorg wanneer hulle dit nodig het, en daar sal geen gelde by die fasiliteit gehef word nie omdat die fonds die koste van sorg sal dek,” het dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, gesê.
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê dat die regering met dié wet voorskryf wáár dokters mag praktiseer, na watter dokter ʼn pasiënt mag gaan én watter medisyne vir jou voorgeskryf mag word. Die NGV-wet sentraliseer alle gesondheidsorg en skep ʼn befondsingmodel wat vatbaar is vir plundery.
Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê daar is bewys dat die NGV nie net onbekostigbaar en onuitvoerbaar is nie, maar dat dit boonop onnodig is omdat Suid-Afrikaners reeds toegang tot gratis gesondheidsorg het.
“As dáárdie gesondheidsorgstelsel nie eers behoorlik onderhou en verbeter kan word nie, is daar tog geen kans dat ʼn aansienlik groter stelsel suksesvol bestuur sal kan word nie. In die SNI se kosteverslag het ons bevind dat die tesourie ʼn bykomende R296 miljard gaan benodig om die NGV ʼn werklikheid te maak.
Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, meen talle mense weet dat die “genesing” wat die NGV bied, erger as die siekte gaan wees en dat die regering se bestuur van die huidige openbare gesondheidstelsel niks goeds vir die radikale NGV voorspel nie.
Buys meen dat die regering blindelings beleide soos die NGV instel, maar nie die nodige voorwaardes soos ekonomiese infrastruktuur, ʼn skoon en bekwame staatsdiens, ʼn funksionerende strafregstelsel en sake- en beleggersvertroue daarvoor in plek het nie.
Solidariteit veg nie téén die NGV nie, maar vír gesondheidsorg. Om die NGV te stop, is goed vir openbare én privaat gesondheidsorg. Hoe meer privaat dienste gelewer word, hoe meer vermoë word juis vir die staat geskep.
Klik hier om ons massa-litigasie te steun en die NGV te stop!