
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Nege jaar later: Polisiekaptein van Krugersdorp wen saak teen SAPD
Deur Heléne Mocke
ʼn Polisiekaptein moes bykans nege jaar lank wag vir geregtigheid om te geskied ná sy aansoek om ʼn hoër rang by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) onregverdig afgekeur is.
Johannes Van Dyk het in 2016 aansoek gedoen vir ʼn bevelvoerderspos met die rang van kaptein in Krugersdorp. Tydens die beoordelingsproses is die suksesvolle kandidaat se punte egter op ʼn onregmatige wyse verhoog. Gevolglik is die kandidaat die pos toegeken, terwyl Van Dyk met ʼn onsuksesvolle aansoek tevrede moes wees.
Van Dyk het egter besluit om terug te veg. Ná hy Solidariteit om hulp genader het, is daar vasgestel dat hy wél op meer geregtig was.
Tydens die onderhoudsproses het die aanstellingspaneel versuim om Van Dyk se meer as 23 jaar ondervinding in die pos waarvoor daar spesifiek geadverteer is, behoorlik te erken. Die SAPD het verder nagelaat om belangrike dokumente en meriete van die aansoeker (Van Dyk) in ag te neem – wat as kwansuise tekortkominge beskou is en regstreeks tot die aanstelling van ʼn ander kandidaat gelei het. Gevolglik is Van Dyk se loopbaanvordering effektief tot stilstand gebring.
Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het agterna bevind dat die SAPD onregverdig opgetree het. Die kommissaris het gelas dat Van Dyk met terugwerkende krag vanaf 1 Augustus 2016 tot die rang van kaptein bevorder word – met volle betaling en diensvoordele.
“Die SAPD is verplig om hul eie interne prosedures en kriteria na te kom. Selektiewe of arbitrêre optrede tydens formele aanstellingsprosesse is onaanvaarbaar en verontagsaam die beginsels van deursigtigheid, regverdigheid en meriete. Wanneer ʼn werkgewer versuim om die beste kandidaat te bevorder, raak dit nie net die betrokke werknemer nie, maar ondermyn dit ook die integriteit van die hele diens,” sê Ian Stockenström, litigant by Solidariteit, wat die saak namens Van Dyk hanteer het.
“Hierdie saak wys weereens dat onregverdigheid gedurende aanstellingsprosesse nie geduld sal word nie. Hierdie lid se volharding was deurslaggewend en die uiteindelike uitspraak is ʼn oorwinning vir geregtigheid. Ons is trots daarop dat ons as ʼn vakbond daarin geslaag het om onreëlmatige optrede vas te vat en rekenskap af te dwing,” voeg Stockenström by.
Solidariteit sal voortgaan om staatsinstellings soos die SAPD verantwoordbaar te hou teenoor die wet, beleid en etiese praktyke.