loading
Artikels
1 jaar gelede
ngv-belastingbetalers-weer-in-die-visier

Foto Krediet: Pixabay

NGV: Belastingbetalers wéér in die visier

Deur Nico Strydom

Indien die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in werking gestel word, sal belastingbetalers tot breekpunt toe gedruk word terwyl die korrupsie en wanbestuur sal aanhou floreer.

Só meen Michele Clarke, DA-LP en dié party se woordvoerder oor gesondheid. “Polities verbonde tenderpreneurs en ontplooide kaders sal die enigste Suid-Afrikaners wees wat onder die NVG sal floreer.”

Dit is net pres. Cyril Ramaphosa wat nog die wetsontwerp moet onderteken om dit as wet te bekragtig om so ʼn nuwe gesondheidsorgbedeling in die land tot stand te bring. Die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) het in Desember die wetsontwerp aanvaar nadat dit vroeër deur die Nasionale Vergadering (NV) aanvaar is en dit is nou na die president se kantoor gestuur vir ondertekening.

Daar heers veral groot onsekerheid oor wat die NGV gaan kos en hoe dit gefinansier gaan word. Vier moontlike inkomstebronne word tans ondersoek wat almal ʼn negatiewe uitwerking op belastingbetalers sal hê. Dit sluit in geld wat jaarliks deur die parlement toegewys word, naamlik algemene belastinginkomste wat tans aan provinsiale gesondheidsdepartemente toegeken word. Die ander moontlike bronne van inkomste is ʼn betaalstrokiebelasting wat behels dat die regering van werkgewers gaan vereis om ʼn gedeelte van hul werknemers se salarisse as ʼn belasting te verhaal wat dan aan die regering oorgedra sal word, ʼn bykomende belasting vir diegene wat persoonlike inkomstebelasting betaal, en die hertoewysing van mediesefondskrediete wat tans belastingverligting aan mediesefondslede bied.

Solidariteit het reeds vroeër daarop gewys dat die staat sy begroting met nagenoeg R300 miljard sal moet aanvul indien die NGV in 2026 ingestel word.

Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), kan die nagenoeg R296 miljard teoreties in 2026 gegenereer word deur die mediese belastingkrediet (ongeveer R30 miljard) terug te trek en die volgende belastings te hef:

  • • ʼn Bobelasting van 40% op inkomstebelasting;
  • • ʼn BTW-verhoging van 15% tot 22%;
  • • ʼn Betaalstaatbelasting van 13,4%;
  • • ʼn Verhoging van maatskappy-inkomstebelasting van 27% tot 45%; en
  • • ʼn Kombinasie hiervan.

“Nie een van hierdie belastings is in reële terme moontlik nie, aangesien die Suid-Afrikaanse belastingbetaler reeds oorbelas is. Hierdie teoretiese voorstelle is net ter illustrasie om die absurditeit daarvan aan te toon,” sê Du Buisson.

Business Unity South Africa (Busa) is ook van mening dat die wetsontwerp in sy huidige vorm heeltemal onuitvoerbaar is en ernstige gevolge vir Suid-Afrika, die ekonomie en elke landsburger sal inhou vir geslagte wat kom.

“Ons het ook herhaaldelik gewaarsku teen ʼn enkele fonds vir die NGV wat onder meer sal vereis dat belasting tot onvolhoubare vlakke verhoog moet word. Dit is onbekostigbaar, onvolhoubaar en hou ʼn wesenlike risiko vir die ekonomie in,” sê Cas Coovadia, die uitvoerende hoof van Business Unity South Africa (Busa).

Craig Comrie, voorsitter van die Health Funders Association (HFA), sê tans verlig mense wat aan mediese skemas behoort die las van die staat om hul gesondheidsorgbehoeftes te finansier, terwyl hulle steeds belasting bydra om openbare gesondheidsdienste te onderhou.

“Om aan te voer dat die verhoging van die belastingkoers staatsinkomste sal verhoog, is ʼn onlogiese gevolgtrekking. Belastinginkomste is geneig om te verminder wanneer die belastingkoers te hoog word, wat uiteindelik wyer diensleweringskwessies vererger, verdere druk op gesinne se reeds beperkte begrotings plaas en beduidende blywende gevolge vir die ekonomie en Suid-Afrikaners het,” sê Comrie.

Thys van Zyl, uitvoerende hoof van Everest Wealth, sê belastingbetalers betaal reeds om die openbare gesondheidsorgstelsel te finansier maar moet ook vir private gesondheidsorg betaal omdat die openbare stelsel ontoereikend is.

“Die moontlikheid dat belastingbetalers al swaarder belas kan word, sal ook tot gevolg hê dat meer mense opsies oorweeg om die land te verlaat. Dit sal vermoedelik ook tot ʼn uittog van kundigheid lei wat uiteraard Suid-Afrika se belastingsbasis net nog verder sal verklein. Suid-Afrika het reeds ʼn baie hoë inkomstebelastinglas relatief tot ander lande. Net meer as 2,5 miljoen mense betaal 84% van alle persoonlike inkomstebelasting,” wys Van Zyl daarop.  


Solidariteit se regstryd teen die vernietigende NGV het binne die eerste uur nadat pres. Cyril Ramaphosa op 15 Mei 2024 dié wetsontwerp onderteken het, begin.

STOP die NGV! Steun ons massa-litigasie!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel