loading
Mediaverklarings
4 maande gelede
ngv-motsoaledi-se-somme-klop-nie

Foto Krediet: Verskaf

NGV: Motsoaledi se somme klop nie

Die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) gaan nie nét gesondheidsorg in Suid-Afrika benadeel nie, maar gaan selfs armoede in die land verder laat uitkring.
Solidariteit laat die soeklig opnuut op waarhede soos dié val ná ondeurdagte uitsprake van die minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, na afloop van die ANC se lekgotla van sy uitvoerende komitee in Boksburg.
Motsoaledi het gekap na groepe wie se kosteberekenings hemelhoë bedrae vir die NGV voorspel en sê dit gaan nié regtig soveel kos nie. Hy noem dit “wiskundige rampokkery” en sê hierdie getalle word téén armes in die bevolking gebruik.
Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), het drukgroepe júís berekenings oor NGV-kostes gaan doen omdat die regering se kosteberekenings daaroor totaal ontbreek.
Hy sê ontleders van NGV-koste verskil oor geskatte bedrae, maar almal kom by dieselfde kommerwekkende gevolgtrekking uit. 
“Nog nie een onafhanklike ontleder kon by ’n bedrag uitkom wat bekostigbaar is nie. Ongelukkig vir die minister wys hierdie wiskunde hoe die NGV juis slég vir die armes gaan wees.
“Hoe gaan minimumloonwerkers skielik inkomstebelasting kan bekostig? En die impak strek selfs verder. Die wiskunde wys ook dit sal ’n vernietigende uitwerking op die hele land hê, want waar gaan die regering nagenoeg R1 000 miljard uitkrap om die NGV te maak werk?” vra Du Buisson.
Die SNI se kosteverslag van 2023 het aangedui hoe minstens ’n bykomende R660 miljard nodig sal wees vir die NGV om in werking gestel te word. 
“Al hoekom dit nie die duisendmiljard-kerf sal oorskrei nie, is omdat daar dan nie meer dokters in die land oor sal wees om te betaal nie. Meer mense móét dit hoor: Die NGV sal nié die armes help nie en dit sal gesondheidsorg vir ons almal vernietig,” sê Du Buisson. 
Verder beweer minister Motsoaledi dat Solidariteit se litigasie teen die NGV nié sal kan keer dat die stelsel tóg uiteindelik geïmplementeer word nie.
Solidariteit verskil van Motsoaledi en glo hulle saak teen ʼn ongrondwetlike, onwerkbare en onuitvoerbare stelsel is inderdaad waterdig.
Volgens Du Buisson is daar ook ander groepe benewens Solidariteit wat met regstappe dreig, alhoewel dit ongelukkig net by dreigemente vashaak.
“Ons sal graag ander organisasies en politieke partye se hofstukke wil sien. Solidariteit is vol vertroue dat ons die NGV suksesvol sal beveg. Dit sal nog meer doeltreffend wees as ander rolspelers soos dokters, mediese fondse en beslis ook politieke partye tot hierdie hofstryd toetree,” sê hy.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel