loading
Artikels
1 jaar gelede
ngv-nasionale-gesondheidsversekering

Foto Krediet: Solidaritiet

Nasionale Gesondheidsversekering – die kernpilare begin kantel

Deur Maryna Eksteen

Die Nasionale Gesondheidsverskering (NGV) is ʼn baie bekende onderwerp onder Suid-Afrikaners, maar wat behels dit regtig? Verstaan jy werklik die mag wat dit vir die wetgewers sal gee indien dit goedgekeur word? Is jy as belastingbetaler gereed om die finansiële las wat dié wetgewing vir jou beursie en gesondheid inhou, te dra?

Connie Mulder, hoof van Solidariteit se Navorsingsinstituut (SNI) is van mening dat die staat die gesondheidsektor wil nasionaliseer. In kort, hulle wil jou van goeie gesondheidsorg onteien.

Die staat sal alleen in beheer wees

Die NGV is die staat se beleid wat ten doel het om een reuse-staatsmediesefonds vir die hele land te skep wat dan deur die regering geadministreer sal word. Die staat sal alleen in beheer wees van watter fondse beskikbaar gestel gaan word en hoe dit bestee mag word. Die staat sal alleenlik besluit watter voordele tot jou beskikking is en wat die NGV sal betaal en wat nie. Nie alle mediese uitgawes gaan deur die NGV gedek word nie, wat beteken dat bo-op die belasting wat jy reeds betaal jy moontlik nog addisioneel vir eie medikasie en sekere prosedures ook gaan moet betaal.

Die land sit in ʼn verknorsing

Volgens Mulder is die staat se droom dat landsburgers met die staat se beursie by ʼn privaat hospitaal kan instap. hierdie droom is egter onbereikbaar en sal nie in ʼn land soos Suid-Afrika kan realiseer nie. Die land sit reeds in ʼn verknorsing met die gesondheidsorgsektor, waar ons dokter tot pasiënt ratio 5 dokters per 1 000 pasiënte is. Dokters wat uit die privaat sektor kom gaan moet dans na die staat se pype sodra die NGV ingestel word. Die werklikheid is dat dokters eerder die land gaan verlaat om elders te werk, volgens navorsing wat die SNI onder dokters gedoen het. Ten einde hierdie dokterstekort aan te vul, gaan ons heel moontlik dokters van Kuba moet verwelkom wat nie ons tale kan praat of die kultuur van ons land verstaan nie.

Slegter gesondheidsorg vir almal

Alhoewel dit aanloklik klink om vir almal toegang tot gelyke mediese sorg te gee, het lesse uit ander lande met soortgelyke stelsels getoon dat mediese uitkomstes in baie gevalle verlaag. Wagtye neem dramaties toe met pasiënte wat weke lang vir ʼn algemene praktisyn en maande lank vir ʼn spesialis moet wag. Indien ʼn pasiënt siek word sal die persoon eers die beskikbare verpleegster moet sien vir ʼn verwysing na ʼn algemene praktisyn. Die algemene praktisyn is natuurlik ook nie een van jou keuse nie, maar een wat die staat vir jou kies. Alhoewel dit lyk of die NGV slegs mense met privaat medies teiken, gaan pasiënte wat tans uitsluitlik van die staat se fasiliteite gebruik ook slegter gesondheidsorg ervaar met geen opsie om moontlik ʼn ander dokter te spreek nie. Uiteindelik gaan die NGV Suid-Afrika “sieker” maak.

Belasting is die antwoord

Die NGV is ontwerp om privaat mediese fondse iets van die verlede te maak na afloop van die implementering daarvan. Mediese fondse sal agtertoe geskuif word en slegs mediese dienste kan dek wat nie deur die NGV gedek word nie; waarskynlik tandheelkunde en kosmetiese prosedures. Die groot vraag bly – waar gaan die regering die fondse kry om dié Utopia te laat realiseer? Volgens die gesondheidsdepartement is die antwoord heel eenvoudig – belasting! Die belastingbetaler gaan vir die droom moet betaal. Dus gaan jy meer betaal vir minder gesondheidsorg. Die NGV gaan Suid-Afrika eenvoudig armer maak.

NHS in Brittanje nie volhoubaar nie

ʼn Eerstewêreldlande soos Brittanje het tans 3 dokters vir elke 1 000 pasiënte. Dit is 5 dokters minder as waaroor ons in Suid-Afrika beskik. Pasiënte in kritieke toestande moet wag vir ambulanse, hospitale is oorvol, mediese personeel is oorwerk en sien staking as hulle enigste uitweg, en finansieel druk die NHS die land se inwoners in ʼn blik. Die NHS-stelsel bestaan al vir 75 jaar in Brittanje en is nie volhoubaar nie. Die voorgestelde NGV is ʼn soortgelyke stelsel wat met dieselfde probleme gaan sit. As Brittanje dit nie kan regkry om so ʼn stelsel te laat werk nie, hoeveel te meer gaan dit ʼn ramp wees in ʼn Derdewêreldland soos Suid-Afrika nie?

Die NGV lyk aanloklik, maar soos met alles wat te goed lyk om waar te wees, is dit ook. Volgens Mulder is die realiteit dat die gehalte van mediese sorg met die implementering van die NGV vir alle burgers van Suid-Afrika slegter gaan wees – met of sonder ʼn mediese fonds.

Solidariteit is sedert 2021 besig met ʼn hofgeveg teen die staat om die NGV stop te sit. Belastingbetaler, jy mag nee sê vir die NGV aangesien dit jou geld is wat vermors word. Solidariteit se missie is minder staat en meer privaat. Raak deel van die geveg. Ons kan nie stilbly en toekyk hoe die staat by ons steel nie.

Vir so lank as wat die staat nie hul pilare van wanbestuur kan oprig nie kan ons vryheid behou in terme van ons gesondheidsbesluite. Hier is hoe Solidariteit die staat op hul tone hou in die hof:

  • • 30 Augustus 2021 – Regstappe word van stapel gestuur om die sertifikaat van behoefte, wat sou veroorsaak dat die regering kan bepaal waar dokters mag praktiseer, ongrondwetlik te verklaar. Klik hier om meer te lees.
  • • 18 Oktober 2021 – Solidariteit loods PAIA-aansoek (openbaarmaking van inligting) omdat die voorsitter van die NGV, dr. Nicholas Crisp van mening was dat dit teen die einde van 2021 in werking sou tree.
  • • 8 November 2021 – Crisp bevestig in ʼn skrywe aan Solidariteit dat verdere aankondigings rakende die NGV nie gemaak sal word, alvorens die wet nie deur die parlement goedgekeur is nie. Lees meer hier.
  • • 24 Junie 2022 – Solidariteit slaag daarin om die sertifikaat van behoefte ongrondwetlik te laat verklaar. Klik hier om meer te lees.
  • • 11 Oktober 2022 – Solidariteit sleep die Departement van Gesondheid hof toe omdat hulle poste adverteer vir die NGV, al het hulle vroeër bevestig aankondigings sal nie gemaak word voor die wet deur die parlement goedgekeur is nie. Die staat lieg vir jou aangesien die wet nog nie goed gekeur is nie. Lees meer
  • • 25 Mei 2023 – Die NGV is deur die portefeuljekomitee oor gesondheid goedgekeur. Solidariteit gaan voort met regstappe. Lees hier meer.
  • • 14 Junie 2023 – Die NGV is deur die parlement goedgekeur. Solidariteit kondig aan dat hy gereed maak vir ʼn groot hofsaak teen die regering se planne vir die NGV. Klik hier om meer te lees.
  • • 15 Mei 2024 – President Cyril Ramaphosa het die NGV-wet tot wet verklaar. Klik hier om Solidariteit se aanmaning aan die president te lees.
  • • 24 Julie 2024 – Artikels 36 tot 40 van die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV-wet), wat aan die regering die mag gee om te bepaal waar mediese praktisyns mag praktiseer, is deur die Noord-Gautengse hooggeregshof as ongrondwetlik verklaar. Lees die uitspraak – klik hier.

Raak betrokke by die geveg teen die staat. Besluit self watter dokter jy wil besoek en moenie langer toelaat dat die staat jou gesondheid Eskom nie. Klik hier om ʼn Solidariteit-lid te word of besoek www.solidariteit.co.za vir meer inligting. Lees meer hier oor die kostes van die NGV of hier vir medici se kommer oor die NGV. 

Neem jou gesondheid in jou eie hande.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel