
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
NGV-voorsmakie: Dokters keer uit radeloosheid rug op staatsgesondheid
Deur Heléne Mocke
Dokters en spesialiste wat wíl help om gesondheidsorg van die staat af vir almal te verbeter, gooi nou al die handdoek in.
Solidariteit het kennis geneem van berigte oor drie vooraanstaande mediese spesialiste wat hul poste by die Universitas Akademiese Hospitaal in Bloemfontein verlaat het. Die storie van proff. Asha Malan, Nadiya Ahmed en Edwin Turton se bedanking weens politieke inmenging en gebroke stelsels in die hospitaal is nie so uniek soos dit mag klink nie.
Volgens die Solidariteit Doktersnetwerk is baie van hulle eie lede ook sodanig gefrustreerd met wanbestuur in die openbare sektor, dat hulle geen ander uitweg sien as om daarvan weg te stap nie.
Peirru Marx, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Doktersnetwerk, sê die verval in staatsinstellings en die regering se onvermoë om verantwoordelikheid te neem vir die heersende situasie, ontneem uiteindelik pasiënte van gehalte gesondheidsorg.
Dit is dán wat hoogsopgeleide spesialiste kies om die staatsdiens te verlaat weens allerlei redes soos tekortkominge in fasiliteite en hulpbronne, algemene swak werksomstandighede, asook suiwer wanadministrasie en natuurlik korrupsie.
Hierdie gebeure is noemenswaardig aangesien dit in ʼn tydperk gebeur wat die Departement van Gesondheid die publiek probeer oortuig hoe universele gesondheidsorg onder die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) die antwoord tot toegang tot gehalte gesondheidsorg vir alle landsburgers gaan wees.
Dit teendeel blyk egter die werklikheid te wees. Marx beklemtoon hoe die verval in staatsinstellings en eksodus van spesialiste uit die staatsdiens eintlik ʼn voorsmakie gee van wat onder die NGV verwag kan word.
Lede van Solidariteit se doktersnetwerk het daarom geen vertroue in die staat se planne om gesondheidsorg deur middel van die NGV te sentraliseer nie.
“Dit is om hierdie rede dat lede ons vra om namens hulle die NGV teen te staan,” het Marx gesê. “Dieselfde mense wat die dienste moet lewer – dit is nou dokters – glo nie dat die staat oor die vermoë beskik om só ʼn komplekse stelsel doeltreffend te bestuur nie.”
Alhoewel Solidariteit onlangs ’n deurbraak behaal het in die saak teen die regering se sertifikaat van behoefte, wat dokters moontlik sou voorsê oor waar en hoe hulle mag praktiseer, is die stryd nog lank nie verby nie. Solidariteit onderneem om voort te gaan met die geveg teen die NGV en enige wette wat dokters wil onderdruk selfs tot in die hoogste hof te beveg.
Solidariteit se volgehoue teenkanting teen die NGV is gegrond op die oortuiging dat die staatsdiensstruktuur in sy huidige formaat onvoldoende is om effektiewe gesondheidsorg te bied.
Al die NGV-energie kan veel eerder gebruik word om die huidige stelsel volhoubaar op te knap om sodoende die verlies aan bekwame personeel, soos die geval by Universitas blyk te wees, te voorkom.