loading
Artikels
11 maande gelede
ontdek-jou-storie-by-die-voortrekkermonument-se-erfenis-en-familiefees

Foto Krediet: Verskaf

Ontdek jóú storie by die Voortrekkermonument se Erfenis- en familiefees

Deur Marné Pienaar

Jou erfenis is soveel meer as net ʼn braaidag. Dáárom vier die Voortrekkermonument ons kultuurerfenis as Afrikaners op Erfenisdag (24 September), want dit is nie net Braaidag nie.

Die Erfenis- en familiefees nooi jou uit om jou wortels te kom herontdek en jou geskiedenis te vier. Waar kom jy vandaan? Wie is jou voorouers? Hoe speel ʼn mens jukskei en wie was die Voortrekkers? Dít alles kan jy op Dinsdag 24 September kom uitvind!

Die dag se program is propvol aktiwiteite soos volkspele, perdry en geskiedkundige demonstrasies van ons geskiedenis. Vir die jongspan is daar lekker boeresport en speletjies, terwyl volwassenes kan smul aan die lekkerste tradisionele happies, terwyl hulle luister na die klanke van die boeremusiekorkes.

Daar is ook spesiale paneelbesprekings waar kenners die belangrikheid van erfenis bespreek, en kunstenaars soos Stefan Jansen en Joey Lane sorg vir musiekvermaak deur die loop van die dag. ʼn Hoogtepunt is die kanonsalvo waartydens 10 skote ter viering van die feesdag afgevuur sal word as simbool van ons ryk geskiedenis.

Solidariteit glo vas: #JyHoortHier. Vir diegene wat wonder of daar nog ʼn toekoms vir hulle in Suid-Afrika is, hoef jy net hierdie fees by te woon om te weet dat ons Afrikaner-wortels so diep ingeslaan is dat ons vir altyd hier sal wees.

Ons Afrikaner-erfenis is nie net deel van die verlede is nie, ons leef dit steeds uit in die hede. Dit is wié ons is, dit is hóé ons met mekaar omgaan en dit loop deur ons are. Hierdie fees is meer as net ʼn geleentheid om te kuier – dit is ʼn oproep om na jou herkoms terug te keer, jou geskiedenis te omhels en ʼn gevoel van behoort te koester.

Afrikaners het ʼn unieke storie, en hierdie fees bied die perfekte platform om dit te vier. Elke deel van die program, van die volkspele tot die gesinsaktiwiteite, is daarop gemik om die Afrikaner se ryk erfenis te vier en nuwe herinneringe te bou wat ons tradisies en kultuur sal voortdra.

Bring jou gesin, vriende en geliefdes en kom vier ons erfenis saam op 24 September, want #JyHoortHier.

Klik hier vir meer besonderhede oor die Voortrekkermonument se Erfenis- en familiefees. Kaartjies is ook by die hek beskikbaar.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel