loading
avatar
Artikels
3 dae gelede
oor-en-oor-uitstel-van-verhoor-en-toe-gryp-solidariteit-in

Foto Krediet: Solidariteit

Oor en oor uitstel van verhoor … en toe gryp Solidariteit in.

Deur Robin-Lee Maré

ʼn Man wie se verhoor weens sy werkgewer se aanklagte van wangedrag aanhoudend sonder goeie rede uitgestel is, het uiteindelik uitsluitsel gekry ná ingryping deur Solidariteit.

C.J. Mouton is in 2023 deur sy werkgewer, BKB Beperk, ontslaan en die saak is reeds op 3 Mei 2024 vir arbitrasie na die KVBA in Dundee, KwaZulu-Natal, verwys. Sedertdien het die saak een uitstel ná die ander beleef, meestal op versoek van die werkgewer. Volgens Hennie Myburgh, litigant by Solidariteit, het die voortdurende uitstelle enorme frustrasie en onnodige kostes veroorsaak.

Uiteindelik het die  Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) op 21 April 2026 die werkgewer se aansoek om tersydestelling geweier nadat ’n verstektoekenning reeds in Desember 2025 ten gunste van Mouton gemaak is.

“Solidariteit het verskeie kere reeds na Dundee gereis en verblyf bespreek, net om by die KVBA uit te kom en te hoor die saak word weer uitgestel. Dit plaas geweldige druk op ’n werknemer wat reeds deur ’n ontslagproses gegaan het,” sê Myburgh.

Die eerste datum vir arbitrasie was vir 19 Junie 2024 vasgestel. Slegs ’n dag voor die verrigtinge het die werkgewer uitstel versoek omdat hul verteenwoordiger glo siek was. Nog ’n datum is vir 6 November 2024 vasgestel, maar op 21 Oktober 2024 het die werkgewer weer uitstel aangevra weens ’n botsing met ’n ander saak.

Só het die patroon voortgeduur. Die uitspraak oor tersydestelling wys ook op ’n reeks verdere uitstelversoeke deur die werkgewer, onder meer in Februarie, Julie en September 2025.

Intussen moes Mouton in onsekerheid voortleef.

Die saak het uiteindelik op 8 Desember 2025 voortgegaan nadat die werkgewer weereens nie opgedaag het nie. Die kommissaris het die werkgewer die geleentheid gebied om virtueel oor Microsoft Teams deel te neem, maar die aanbod is van die hand gewys. Die arbitrasie het toe in verstek voortgegaan en Solidariteit het die saak gewen.

In die verstektoekenning het die kommissaris bevind Mouton se ontslag was substantief onbillik en BKB is beveel om hom te vergoed.

Die werkgewer het daarna ’n herroepingsaansoek gebring in ’n poging om die verstektoekenning tersyde te laat stel.

Solidariteit het die aansoek ten sterkste teengestaan en aangevoer die voortdurende uitstelle vorm deel van ’n doelbewuste vertragingstrategie. Die KVBA  het uiteindelik saamgestem en bevind goeie rede vir herroeping ontbreek.

Myburg sê die saak stuur ’n duidelike boodskap aan litigante wat meen dat die uitstel van sake eindeloos gebruik kan word om prosesse te vertraag.

“Hou op met flou verskonings om sake uit te stel óf dra die gevolge. Litigante wat teen Solidariteit te staan kom, behoort voorbereid by sake op te daag. Enige wanvoorstelling of onnodige vertraging sal ten sterkste teengestaan word,” sê Myburgh.

Hy wys verder daarop dat die KVBA se eie reëls bepaal hoe uitstel­aansoeke minstens 14 dae voor ’n arbitrasiedatum gebring behoort te word.

“Verteenwoordigers verkeer soms onder die indruk enige sieknota beteken ’n saak móét uitgestel word. Howe oorweeg egter die volle konteks, veral waar ’n geskiedenis van vertragings bestaan,” voeg Myburgh by.

Volgens Myburgh het die langdurige proses ’n swaar emosionele tol op Mouton geëis.

“Die lid was op ’n stadium gereed om moed op te gee. Ná byna twee jaar se bakleiery kan hy uiteindelik aanbeweeg met sy lewe.”

Mouton het ná die uitspraak sy waardering teenoor Solidariteit uitgespreek en gesê hy sal mense met wie hy in aanraking kom aanmoedig om by die vakbond aan te sluit.


Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel