Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Op 5 November gaan ek stap
Deur Johnell Prinsloo
Ek sien op verskeie WhatsApp-groepe hoe mense skakels met inligting en registrasiebesonderhede aanstuur vir die optog wat op 5 November teen die Bela-wet, wat op 13 September deur president Cyril Ramaphosa onderteken is.
Ek het ook gelees dat mense nie altyd van protesaksie hou nie, maar dat hulle wel dink hierdie saak is die aksie werd.
Ons hou oor die algemeen van reëls. Ons hou daarvan om binne ons baan te bly en ons kant te bring as wetsgehoorsame burgers. Daar is egter ʼn paar dinge waarvan ons nie hou nie. Onreg is een van daardie goed, veral wanneer dit my kind of sy toekoms of ons vryheid bedreig.
Bogenoemde som die Afrikaner eintlik nogal goed op. Dink maar net aan die Covid-19-pandemie. Sonder veel teëstribbeling het die meeste van ons die aanvanklike drie weke lange inperking aanvaar. Ons het onsself voorberei en gesorg dat ons vir hierdie tydperk kan aangaan. Toe word die inperking verleng, en hoe langer dit verleng word en hoe meer ons vryheid eensydig en sonder werklike rede opgeskort is, hoe meer het ons onsself daarteen verset.
Net meer as 100 jaar gelede het ons ons voet neergesit oor Afrikaans as onderrigtaal in skole. Ons het deur die stigting van die eerste Afrikaanse hoërskool bewys dat ons regte as taal- en kultuurgemeenskap, veral met betrekking tot vryheid en die opvoeding van ons kinders, ononderhandelbaar is.
Vryheid – om te kan leer in die taal van my keuse, om te kan assosieer met die gemeenskap van my keuse en om self te kan besluit oor die opvoeding en toekoms van my kind.
Ek is nie ʼn aanhanger van die regering of die beleide wat hulle implementeer of die wetgewing wat hulle deur stoomroller nie. Ek is van mening dat daar grootskaalse onderdrukking plaasvind en dat ek as Afrikaanssprekende en Afrikaner aan die kortste ent van daardie ideologie trek.
Ek wil nie in ʼn Gauteng of Suid-Afrika woon waarvan ʼn Lesufi die argitek is nie en ek wil veral nie hê dat hierdie openlik rassistiese amptenare oor my kind se opvoeding, toekoms en taal besluit nie.
Op 5 November neem ek deel aan die Solidariteit Beweging se optog teen die Bela-wet. Ek sal deelneem vir die behoud van my taal. Ek sal deelneem vir die beskerming van Afrikaanse onderwysers. Ek sal deelneem omdat ons skole vir ons kosbaar is. Ek sal deelneem, want vryheid is ʼn reg wat die ANC nie van my sal ontneem nie.
Kom stap saam vir ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms vir Afrikaanse skole en die kinders wat daar wil skoolgaan!