Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit kondig voorstel aan vir oplossing anderkant die BELA-geskil
Solidariteit het ʼn voorstel aangekondig vir ʼn oplossing vir die BELA-geskil.
Volgens Solidariteit hou die openbare diskoers oor BELA die land gyselaar, en Suid-Afrika kan dit nie verder bekostig nie.
Solidariteit het ook ʼn uitnodiging aan SADOU gerig vir gesprekke.
Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is daar ʼn groter kans om die geskil op te los as werkers met mekaar in gesprek tree, eerder as dat politieke partye met mekaar baklei.
Die fokus van die gesprek met SADOU sal wees op moedertaalonderrig vir alle Afrikataalsprekers. “Ons het ʼn positiewe uitkoms nodig wat die meerderheid leerders sal help om toegang tot gehalteonderrig te kry,” sê Hermann.
Solidariteit glo sy voorstel bied ‘n wen-wen oplossing wat vir die ANC, DA, SADOU en AfriForum aanvaarbaar sal wees. Solidariteit stel ook voor dat verdere gesprekke oor BELA deel vorm van die komende nasionale dialoog.
“Daar is geen wetlike roete om BELA onmiddellik in sy geheel te implementeer nie. Die nodige meganismes, soos norme en standaarde, is nie in plek nie. Die Wet bied egter ʼn oplossing: die president kan aankondig dat die Wet in sy geheel geïmplementeer sal word sodra norme, standaarde en beleide ontwikkel is. Dit is die enigste wetlike manier om die geskil op te los. Ons is bereid om met enige belanghebbendes oor hierdie saak in gesprek te tree,” voeg Hermann by.
Solidariteit het in Oktober ‘n bilaterale ooreenkoms met die Minister van Basiese Onderwys by Nedlac gesluit. In die ooreenkoms is sekere beskerming vir Afrikaanse skole ingebou. Hierdie bilaterale ooreenkoms staan vas en sal deel vorm van die norme en standaarde wat ontwikkel gaan word.
In sy voorstel beklemtoon Solidariteit ook die behoefte om gedurende hierdie proses moedertaalonderrig vir alle sprekers van Afrikatale te bevorder.
Daar moet ook gefokus word op die bevordering van meertaligheid onder kinders, veral die aanleer van Afrika-tale.
Solidariteit stel verder voor dat, indien wetswysigings gedurende hierdie proses nodig blyk te wees, die gewone wetgewende prosedures gevolg moet word.
Die voorstel lui soos volg:
1. Die verskillende prosesse wat daarop gemik is om die BELA-geskil op te los, word erken.
2. Die onderskeie rolle van die president en die minister van basiese onderwys word erken.
3. Die rol van die president met betrekking tot die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette, 2024 (BELA-wet) is om:
- goedkeuring aan die Wet te gee; en
- die inwerkingtreding van die bepalings van die Wet aan te kondig.
4. Die rol van die minister van basiese onderwys, as die persoon primêr verantwoordelik vir die portefeulje van Basiese Onderwys, is om te verseker dat die BELA-wet behoorlik geïmplementeer word, insluitend om:
- aanbevelings aan die president te maak oor reëlings vir inwerkingtreding van die Wet; en
- te verseker dat die implementering van die Wet ondersteun word deur toepaslike nasionale regulasies, norme, standaarde en beleide.
- Dit beteken dat hoewel die minister advies mag gee, die verantwoordelikheid om die Wet goed te keur en te proklameer, by die president berus.
5. Hierdie rolle is statutêr en mag nie deur enige ooreenkomste of partye gekompromitteer word nie.
6. Geen proses mag inmeng met die verantwoordelikhede van die president en die minister nie.
7. Erkenning word gegee aan die werk wat reeds gedoen is en die besluite wat deur die parlement geneem is.
8. Met betrekking tot die BELA-wet, veral artikels 4 en 5:
- Die president en die minister word aangemoedig om hul rolle binne die raamwerk van die getekende Wet te vervul.
- As gevolg van die afwesigheid van norme, standaarde, regulasies en beleide, kan BELA nie onmiddellik geïmplementeer word nie.
9. Die minister word aangemoedig om:
- die nodige norme, standaarde, regulasies en beleide so gou as moontlik te ontwikkel sodat die president die toepaslike artikels kan aankondig; en
- oplossings te soek vir omstrede punte gedurende hierdie proses.
10. Spesifieke aandag moet gegee word aan:
- die ontwikkeling van moedertaalonderrig vir alle Afrika-tale; en
- die bevordering van meertaligheid, met die klem op leerders se aanleer van meer as een Afrika-taal.
11. Indien wetgewende wysigings gedurende die proses nodig word, soos bepalings om moedertaalonderrig te versterk, moet dit deur die gewone wetgewende proses aangespreek word.
12. Terwyl die nodige norme en standaarde en ander beleidsdokumente ontwikkel word, moet sake rakende die BELA-wet, en die bevordering van toegang tot gehalteonderrig in die land as geheel, ‘n sentrale rol speel in die komende Nasionale Dialoog.