loading
Mediaverklarings
6 dae gelede
sa-speel-met-vuur-in-saak-teen-israel

Foto Krediet: Verskaf

SA speel met vuur in saak teen Israel 

Solidariteit waarsku die Suid-Afrikaanse regering oor die ernstige gevolge van sy volgehoue veldtog téén Israel waarin hy belastingbetalersgeld gebruik om ʼn saak by die Internasionale Geregshof te bevorder.
Na wat berig word, kan pres. Cyril Ramaphosa nou ʼn spesiale bewilligheidswetsontwerp bekragtig nadat dit deur die Nasionale Raad van Provinsies goedgekeur is. Dié wetsontwerp maak die bewilliging van meer as R95 miljoen moontlik vir die saak waarin Suid-Afrika Israel oor die oorlog in Gasa aanvat.
Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), kan hierdie spandabelrige veldtog Suid-Afrikaners nog baie duur te staan kom indien hy deelname aan die ooreenkoms ingevolge die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede (Agoa) weens die saak teen Israel verloor.
“Hierdie R95 miljoen wat aan regskoste bestee word, is net ʼn druppel in die emmer vergeleke met dit wat ons kan verloor sou Suid-Afrika uit Agoa geskop word, of selfs net as ons verhouding met Westerse lande verder verswak.
“Die ANC se voortdurende pogings om Suid-Afrika by vyande van die VSA te skaar, beskadig ons reputasie as ʼn beleggingsbestemming op ʼn tydstip wat ons dit allermins kan bekostig,” sê Du Buisson.
Hy beklemtoon hoe die VSA se belange voorkeur gaan geniet wanneer die administrasie in Januarie verander, en onder leiding van verkose pres. Donald Trump gaan staan.
“Wanneer die VSA ʼn nuwe regering kry, sal daar heel moontlik nie meer genade vir die ANC se streke wees nie. Indien Trump inderdaad ʼn algemene tarief op alle invoere na die VSA op lande soos China en Mexiko instel, kan ons dit nie bekostig om uit Agoa geskop te word nie.
“As Agoa ons uitvoere van die algemene tarief vrystel, sal dit ʼn groot mededingende voordeel aan ons gee, en dit is iets wat Suid-Afrika eenvoudig nie kan prysgee nie,” sê Du Buisson.
Solidariteit het in November ʼn pleidooi aan verkose president Trump gerig om Suid-Afrika se deelname aan Agoa te laat voortduur aangesien sowat 20% van Suid-Afrikaanse huishoudings regstreeks van uitvoere na die VSA afhanklik is.
Ongeveer 30 000 van Solidariteit se lede werk ook in bedrywe wat deur tariefvrye uitvoere na die VSA, soos moontlik gemaak deur Agoa, bevoordeel word.
Du Buisson sê die Suid-Afrikaanse regering moet júis nou versigtig trap met verhoudingsbestuur.
“Tog is dit asof die ANC die belastingbetalers meer laat betaal sodat hulle verder kan verarm. Hierdie Israel-saak geniet buitendien geen noemenswaardige steun nie. Ons kan eenvoudig nie bekostig om toe te kyk hoe gewone Suid-Afrikaners verarm ter wille van die ANC se morele agenda nie. 
“Ons moet juis toenadering soek by die VSA en ander lande wat Suid-Afrika op die ekonomiese wenpad sal plaas en ons moet hierdie ideologiese geskille onmiddellik laat vaar,” sê Du Buisson.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel