Fotokrediet: Solidariteit
Gekopieër
Jonger kiesers keer hulle rug op ANC se struggle-politiek
Caria van der Merwe
Die ANC se bevrydingsgeskiedenis is nie meer genoeg om jong Suid-Afrikaners se stemme te wen nie. ’n Nuwe geslag kiesers stel ander eise aan politieke leiers, en die uitslae van die 2026-munisipale verkiesings wys dat die land se politieke landskap besig is om te verander.
Volgens Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), is dié verskuiwing in kiesersgedrag een van die belangrikste verwikkelinge wat uit die verkiesingsuitslae na vore kom.
Die ANC het vanjaar slegs 30,76% van die stemme gekry, terwyl die DA 24,64% en Action SA 5,67% ontvang het. Die uitslae dui op toenemende druk op gevestigde politieke partye en nuwe geleenthede vir alternatiewe.
’n Nuwe geslag kiesers dink anders
Volgens Mulder kan die ANC nie meer op sy rol in die bevrydingstryd staatmaak om jonger kiesers se steun te verseker nie.
Waar ouer geslagte die party met die stryd teen apartheid verbind, het jonger Suid-Afrikaners ’n ander verwysingsraamwerk. Hulle ken eerder ’n Suid-Afrika van staatskaping, korrupsie en politieke skandale.
Mulder meen dit help verklaar waarom kiesers toenemend na die politieke middel beweeg, eerder as om hul steun na meer radikale partye te verskuif.
Die verskuiwing in kiesersvoordele is nie net onder jong swart Suid-Afrikaners sigbaar nie. Volgens Mulder het die VF Plus se steun ook in bepaalde Afrikanergebiede byna verdubbel.
Koalisies en gemeenskapselfstandigheid
Tog bly die politieke omgewing onseker. In 127 munisipaliteite het geen enkele party ’n volstrekte meerderheid behaal nie; wat beteken dat koalisieonderhandelinge ’n bepaalde rol in die samestelling van plaaslike regerings gaan speel.
Mulder wys daarop dat politieke verskille en persoonlike verhoudings tussen partyleiers die vorming van koalisies kan bemoeilik. Vir gemeenskappe beteken dit dat beter dienslewering en politieke stabiliteit nie slegs met ’n verandering in regering gewaarborg word nie.
Dit is juis waarom Solidariteit se ons-sal-self-benadering relevant bly. Selfstandige gemeenskappe hoef nie te wag totdat politieke partye oor hul verskille ooreenkom voordat hulle aan hul eie toekoms bou nie. Deur sterk instellings op die gebied van onderwys, opleiding, werk en gemeenskapsontwikkeling uit te bou, kan Afrikaners hul gemeenskappe versterk en terselfdertyd nuwe geleenthede vir samewerking benut.
Rede vir optimisme oor 2029
Ondanks die politieke onsekerheid meen Mulder dat verkiesingsuitslae rede vir optimisme bied. Volgens hom stel jonger kiesers toenemend praktiese behoeftes bo historiese politieke lojaliteite. Hulle wil werk hê, huise besit, gesinne onderhou en in veilige, stabiele gemeenskappe woon.
Hy verwag dat hierdie verskuiwing in die aanloop tot die algemene verkiesing van 2029 kan versnel.
Vir Afrikaners bied die veranderende politieke landskap nuwe moontlikhede, maar dit verander nie die belangrikheid van gemeenskapsbou nie. Politieke verandering kan deure oopmaak, maar wat gemeenskappe met daardie geleenthede doen, bly egter in hul eie hande.