Fotokrediet: Verskaf
Gekopieër
Solidariteit verhoed gedwonge afleggings by Cast Products
Deur Robin-Lee Maré
Solidariteit het daarin geslaag om gedwonge afleggings by Cast Products South Africa (CPSA) te verhoed nadat 206 werknemers se poste weens die voorgenome sluiting van die onderneming se wielaanleg in gedrang gekom het.
Dié uitkoms volg ná ’n konsultasieproses ingevolge artikels 189 en 189A van die Wet op Arbeidsverhoudinge, waartydens Solidariteit hom beywer het vir die behoud van werksgeleenthede en alternatiewe vir gedwonge afleggings.
CPSA, ’n gevestigde vervaardiger in die gietery- en ingenieursbedryf, verkeer reeds sedert 2022 in sakeredding. Die afgelope vier jaar is gekenmerk deur finansiële probleme, tydelike afleggings en voortdurende onsekerheid oor die onderneming se voortbestaan.
Volgens Willie Venter, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, plaas die uitgerekte sakereddingsproses geweldige druk op werknemers en hul gesinne.
“Vir vier jaar reeds leef hierdie werknemers in onsekerheid oor hul toekoms. Hulle weet nie altyd of hul werk môre nog daar gaan wees nie. Ons eerste prioriteit was daarom om alles moontlik te doen om gedwonge werkverliese te voorkom,” sê Venter.
Die jongste konsultasieproses het gevolg nadat CPSA voorgestel het om sy wielaanleg te sluit. Transnet, die aanleg se enigste kliënt, se bestellings was onvoldoende om die voortgesette bedryf daarvan te regverdig.
Hoewel 206 werknemers moontlik deur die sluiting geraak kon word, is artikel 189(3)-kennisgewings aanvanklik aan 592 werknemers uitgereik.
Solidariteit het saam met ander erkende vakbonde en werknemerverteenwoordigers aan die konsultasieproses deelgeneem, onder leiding van ’n kommissaris van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA).
Verskeie alternatiewe is ondersoek, waaronder verminderde werksure, herontplooiing, kostebesparings, vroeë aftrede en vrywillige skeidingspakkette.
Altesaam 98 werknemers het om vrywillige skeidingspakkette aansoek gedoen, waarvan 72 goedgekeur is. Daar is verder beoog om die oorblywende 134 werknemers binne die onderneming te akkommodeer of in ander poste te plaas.
Die ondertekende konsultasie-afsluitingsooreenkoms bevestig dat geen werknemers ingevolge hierdie proses gedwonge afgelê sou word nie.
“Hierdie uitkoms wys waarom behoorlike konsultasie so belangrik is. Waar werknemers aanvanklik hul werk kon verloor, is alternatiewe gevind om gedwonge afleggings te vermy. Elke pos wat behoue bly, beteken ’n gesin wat steeds op ’n inkomste kan staatmaak,” sê Venter.
Hy waarsku egter die onderneming se voortgesette sakeredding bly kommerwekkend.
“Suid-Afrika kan nie bekostig om nóg vervaardigingskapasiteit en gespesialiseerde vaardighede te verloor nie. Die voortbestaan van ondernemings soos Cast Products is noodsaaklik vir ons ekonomie en die gemeenskappe wat daarvan afhanklik is.”
Solidariteit sal voortgaan om die uitvoering van die ooreengekome reëlings te monitor en sy lede se belange te beskerm.
“Ons lede is nie bloot syfers op ’n afleggingslys nie. Agter elke pos is ’n mens en ’n gesin. Ons sal aanhou veg vir hul werk en hul toekoms,” sluit Venter af.