loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
arcelormittal-moet-opdok-na-skeidingspakket-weerhou-is

Fotokrediet: Verskaf

ArcelorMittal moet opdok ná skeidingspakket weerhou is

Robin-Lee Maré

Ná meer as 13 jaar diens by ArcelorMittal, het Ryno Connoway en sy gesin hulle skielik voor ʼn moeilike keuse bevind: om meer as 300 km te verhuis vanaf Newcastle na Vanderbijlpark vir ʼn alternatiewe pos vir Ryno. Of om te bly waar hulle is, maar sy skeidingspakket te verloor.

Ryno is op 6 Desember 2025 tydens afleggings by ArcelorMittal se Newcastle-aanleg afgelê. Die maatskappy het hom alternatiewe werk by sy Vanderbijlpark-aanleg aangebied, maar vir Ryno sou die skuif ingrypende gevolge vir sy gesin en hul gevestigde lewe in Newcastle inhou.

Sy vrou sou haar werk moes verlaat indien sy saam met hom verhuis, terwyl sy bejaarde en siek pa in Newcastle woon, waar hy mediese behandeling ontvang. Die verhuising sou ook hoër lewenskoste, duurder behuising en die verlies van sy bestaande ondersteuningsnetwerk meebring.

Volgens Zane Hanekom, litigant by Solidariteit, was Ryno se besluit om die aanbod van die hand te wys allesbehalwe onredelik.

“ʼn Werknemer kan nie bloot verwag word om sy hele gevestigde lewe om te keer net om ʼn skeidingspakket te behou nie. Ryno het die aanbod ernstig oorweeg en met sy werkgewer probeer onderhandel oor ander moontlikhede.

“Sy persoonlike en finansiële omstandighede het die skuif eenvoudig onredelik gemaak,” sê Hanekom.

ArcelorMittal het egter Ryno se skeidingspakket weerhou nadat hy die alternatiewe pos van die hand gewys het.

Solidariteit het toe namens Ryno ingegryp en ʼn geskil ingevolge artikel 41 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (No. 75 van 1997) na die Bedingingsraad vir die Metaal- en Ingenieursbedryf (MEIBC) verwys.

Artikel 41 bepaal onder meer ʼn werknemer wat weens die werkgewer se bedryfsvereistes ontslaan word, is geregtig op minstens een week se vergoeding vir elke voltooide jaar van ononderbroke diens. Hierdie aanspraak kan verbeur word indien ʼn werknemer onredelik weier om ʼn aanbod van alternatiewe werk te aanvaar.

Die kommissaris het bevind Ryno se weiering was redelik.

Sy verantwoordelikhede teenoor sy bejaarde pa, die afstand van meer as 300 km vanaf sy vrou, hoër lewenskoste, die moontlike verlies van sy vrou se inkomste en die verlies van sy gemeenskaps- en ondersteuningsnetwerk het onder meer in sy guns getel.

“Alternatiewe werk moet werklik ʼn redelike alternatief wees. ʼn Werkgewer kan nie bloot ʼn pos honderde kilometers ver aanbied en dan van  ʼn werknemer verwag om sy hele gesinslewe daarvoor om te keer nie,” sê Hanekom.

Die bedingingsraad het uiteindelik in Ryno se guns beslis en ArcelorMittal gelas om sy volle skeidingspakket van R358 202,53 te betaal.

ArcelorMittal het aan die arbitrasietoekenning voldoen en Ryno het sy geld ontvang.

“Ryno het ná meer as 13 jaar diens met leë hande uit ʼn afleggingsproses gestap. Vandag het hy die geld ontvang waarop hy geregtig was.

“Vir ons is dit ʼn goeie voorbeeld van wat moontlik is wanneer ʼn werknemer nie alleen hoef te staan wanneer iets by die werk skeefloop nie,” sluit Hanekom af.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel