loading
Mediaverklarings
5 dae gelede
konsultasietydperk-van-drie-maande-oor-bela-sluit-af

Foto Krediet: Solidariteit

Konsultasietydperk van drie maande oor Bela sluit af

Die Solidariteit Beweging, waarvan Solidariteit en AfriForum deel is, sê hulle het finale insette van verskeie konsultasieprosesse voor die sperdatum van 13 Desember aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur.

Die Solidariteit Beweging bevestig ook dat hulle met die president ooreengekom het dat die omstrede Bela-artikels nie op 13 Desember gepromulgeer gaan word nie, maar dat dit bloot die einde van die konsultasietydperk is.

Indien die president voortgaan om die omstrede artikels te promulgeer voordat toepaslike norme, standaarde en regulasies ontwikkel is, sal Solidariteit en AfriForum voortgaan om tot hofstappe oor te gaan omdat dit onregmatig sal wees.

Die konsultasiegesprekke waarvan die Solidariteit Beweging deel was, sluit gesprekke met die ANC en mediasie en ʼn proses by Nedlac in.

Noudat die dialoog oor die artikels rakende die taal- en toelatingsbeleid afgehandel is, sal die Solidariteit Beweging vir enige aankondiging deur die president wag voordat daar op verdere optrede besluit word.

Die konsultasieproses van drie maande het gevolg ná telefoongesprekke in September tussen pres. Ramaphosa, dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, plaasgevind het. Tydens hierdie gesprekke is oor die konsultasietydperk van drie maande ooreengestem.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel