Afrikaans

English

loading
Mediaverklarings
2 maande gelede
pilaar-van-ngv-val-in-die-hof

Foto Krediet: Pexels: Karolina Grabowska

Pilaar van NGV val in die hof

Solidariteit het daarin geslaag om een van die grootste pilare van die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te laat val. Dit volg nadat die Noord- Gautengse hooggeregshof artikels 36 tot 40 van die Wet op Nasionale Gesondheid met koste ongrondwetlik verklaar het.

Volgens Solidariteit was die staat se doelwit met hierdie artikels duidelik om die weg te baan vir die NGV en om te kompenseer vir die bankrotskap van die staatskas.

“Die regering wil na ’n stelsel beweeg waarin gesondheidsorg genasionaliseer word en gesondheidsorgpraktisyns knegte van die staat word, sodat die staat die lewering van alle gesondheidsorg sentraal kan beheer. Hierdie oorwinning stuit daardie rampspoedige planne net daar waar hulle staan,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Artikels 36 tot 40 het bepaal dat gesondheidspraktisyns ʼn sertifikaat van behoefte vanaf die departement van gesondheid moet ontvang alvorens hulle ʼn praktyk in ʼn spesifieke area mag vestig.

Solidariteit het in sy aansoek aangevoer dat die vereiste van ʼn sertifikaat van behoefte onregmatig inbreuk maak op gesondheidspraktisyns se reg om hul beroep te beoefen. Solidariteit sê dat indien hierdie artikels in werking sou tree, dit as’t ware op die onteiening van gesondheidspraktisyns se ondernemings en eiendom sou neerkom en dat dit ten koste sou wees van sowel die praktisyns as diegene wat tans van hul dienste gebruik maak.

“In wese sou hierdie artikels die regering bemagtig om mediese praktyke amper geheel en al te kaap en na sy goeddunke – eerder as dié van dokters – te bestuur. Ons kan nie bloot hoop dat die regering maar net altyd sy wye diskresie verantwoordelik sal toepas nie. ʼn Regering behoort hoegenaamd nie sulke magte te hê nie,” verduidelik Hermann.

Solidariteit voer aan dat besluite oor gesondheidsorg eerder deur gesondheidspraktisyns geneem moet word en dat meer inmenging van die regering uiteindelik almal benadeel.

“Die mediese sektor in Suid-Afrika het nie nóg meer burokrasie vanaf die staat nodig nie. Ons moet juis ons gesondheidspraktisyns bemagtig en bemoedig. Hierdie tipe wetgewing lei tot swakker sorg, ʼn sieker land en verontwaardiging onder mediese praktisyns wie se regte hierdeur vertrap sou word. Ons is verheug oor hierdie uitspraak wat ʼn reuseoorwinning vir gesondheidspraktisyns en gesondheidsorg in Suid-Afrika is,” sluit Hermann af.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel