
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Pres. Ramaphosa opponeer Solidariteit se NGV-hofaansoek
Terwyl gesprekke oor ʼn regering van nasionale eenheid (RNE) aan die gang is, het pres. Cyril Ramaphosa amptelik kennis gegee dat hy Solidariteit se hofaansoek teen die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) gaan opponeer. ʼn Soortgelyke kennisgewing van opponering is ook van die Minister van Gesondheid ontvang.
“Die hofstryd is nou ten volle aan die gang. Terwyl die ANC gesprekke oor ʼn RNE voer, het die president sy hand oor die NGV gespeel. Talle politieke partye het aangedui dat die skrapping, of minstens ingrypende wysigings aan die NGV, ʼn voorwaarde vir deelname aan koalisies en ʼn regering van nasionale eenheid is,” sê Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van regsake by Solidariteit.
Volgens hom word gesprekvoering oor die RNE op die spel geplaas weens die regering se verdediging van die NGV, wel wetende dat daar ernstige weerstand daarteen is.
Solidariteit het op 24 Mei sy hofstukke aan die regering beteken en het ook op ʼn NGV-krisisberaad verskeie politieke partye en drukgroepe versoek om mekaar se optrede teen die NGV-wet, hetsy deur litigasie, politieke prosesse of burgerlike druk, te steun.
Solidariteit doen ʼn beroep op partye wat by die RNE-gesprekke betrokke is om die NGV teen te staan en druk op pres. Ramaphosa uit te oefen om nie met die NGV voort te gaan nie. Selfs sy eie kiesers het dit verwerp.
Solidariteit en talle politieke partye en drukgroepe glo die NGV is ongrondwetlik sowel as onuitvoerbaar en onbekostigbaar.
Solidariteit sal die NGV tot in die hoogste hof beveg, want die NGV is totaal irrasioneel. Dit ontneem gesondheidsorgwerkers sowel as gebruikers van gesondheidsorg van ʼn keuse.
Die teenstrydigheid wat in die idee van ʼn NGV opgesluit lê, is die feit dat dit tot kleiner toegang tot gehalte-gesondheidsorg in Suid-Afrika sal lei, en nie tot groter toegang daartoe soos wat die regering voorhou nie. Klik hier vir die dokument.