loading
Mediaverklarings
1 jaar gelede
regering-kry-nie-eers-dokters-geplaas-maar-wil-ngv-bedryf

Foto Krediet: Verskaf

Regering kry nie eers dokters geplaas maar wil NGV bedryf

Dr. Nicholas Crisp se vals stelling oor dokterplasings in Suid-Afrika is net nóg ʼn helderrooi gevaarlig vir die regering se planne om die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te implementeer.

Dr. Crisp het as adjunk-direkteur-generaal van gesond op rekord gesê dat daar geen tekort aan dokters is nie, want die departement van gesondheid “sukkel om al die dokters wat kwalifiseer in die land werk te gee op die oomblik.”

Hy is ook ʼn vername kampvegter vir die implementering van die NGV.

Alhoewel hy ontken dat daar ʼn tekort aan dokters in Suid-Afrika is, is daar teenstrydige bewyse. Tot soveel as ʼn duisend gefrustreerde junior dokters en ander pas-afgestudeerde mediese praktisyns vra op sosiale media en elders vir oplossings vir hul frustrasies oor die probleme met plasings vir gemeenskapsdiensjare en poste.

Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut, sê die ware rede vir die versuim om dokters te plaas, word deur die departement van gesondheid verswyg.

“Die kernprobleem is ʼn ernstige tekort aan fondse en dr. Crisp kies om dit te ignoreer. Dit is duidelik dat die departement van gesondheid ernstige finansiële- en bestuursuitdagings ervaar, wat lei tot ʼn onvermoë om afgestudeerde gesondheidsorgwerkers te plaas.

“Dit is ʼn probleem wat verder as net die onmiddellike kwessie van werkloosheid en loopbaanfrustrasie onder dokters strek. Dit het natuurlik ook ʼn impak op die toegang tot gesondheidsorg vir miljoene Suid-Afrikaners, veral in gemeenskappe waar dokters in hul gemeenskapsdiensjare die enigste beskikbare dokters is,” sê Du Buisson.

Suid-Afrika het wel ʼn ernstige tekort aan dokters. In Kanada is daar 2,77 dokters per 1 000 pasiënte, en daar word dit as hopeloos te min bestempel. In Suid-Afrika is die verhouding 0,8 dokters per 1 000 pasiënte. Baie dokters het boonop reeds laat blyk dat hulle onder die NGV-stelsel sal emigreer.

“Hierdie probleem met plasings sal ook nie deur die NGV opgelos word nie. Tog kan dit verbeter word deur dokters toe te laat om hul gemeenskapsdiensjare in die privaat sektor te voltooi en om die privaat sektor toe te laat om dokters op te lei,” gaan Du Buisson voort.

Solidariteit doen daarom ʼn beroep op die regering om dringend strukture in plek te stel om dokters geplaas te kry. Solidariteit hoop ook dat hierdie toedrag van sake, wat jaarliks herhaal word, ʼn wekroep tot die regering sal wees om hulle van die NGV en sy veel groter strukture te laat afsien.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel