loading
Mediaverklarings
10 maande gelede
regering-se-ngv-planne-net-verkiesingstaktiek-solidariteit

Foto Krediet: Verskaf

Regering se NGV-planne net verkiesingstaktiek – Solidariteit

Solidariteit is ernstig besorg oor die bestaande kwessies rakende die befondsing van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV).

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het onlangs aangekondig dat daar bykans geen toewysing vir die NGV vir die huidige finansiële jaar is nie. Hierdie gebrek aan ‘n duidelike finansiële plan laat talle Suid-Afrikaners twyfel oor die regering se vermoë om die NGV te implementeer. Daarby word die die NGV boonop gebruik om stemme vir vanjaar se algemene verkiesing te werf.

Solidariteit se netwerke vir die mediese sektor het die gebrek aan finansies vir die NGV benadruk, en hulle beskou dit as ‘n “duidelike bewys van die regering se onvermoë om ‘n doeltreffende befondsingstrategie vir hierdie belangrike stelsel te formuleer”. Volgens Peirru Marx, netwerkkoördineerder van Solidariteit se mediese netwerke, is die ontoereikende R 1,4 miljard vir die NGV nie naastenby voldoende om die grootskaalse behoeftes daarvan te dek nie.

“Hierdie gebrek aan finansiële verantwoordelikheid versterk Solidariteit se standpunt teen die NGV, en ons beskou dit as ‘n onrealistiese en ontoereikende oplossing vir die uitdagings binne die gesondheidsorgstelsel,” sê Marx.

Een van die kommerwekkendste aspekte van hierdie situasie, volgens Marx, is die gebrek aan duidelike riglyne oor hoe die NGV finansieel ondersteun sal word.

“Die afwesigheid van ‘n konkrete finansiële strategie laat onbeantwoorde vrae oor die moontlike impak op belasting, sowel as die uitwerking van moontlike belastingverhogings om die NGV te kan bekostig,” sê hy.

Dit is duidelik dat die NGV nie net ‘n gesondheidsorgkwessie is nie, maar ‘n breër ekonomiese en finansiële uitdaging vir Suid-Afrika. Sonder ‘n duidelike en geloofwaardige finansiële plan bly die NGV ʼn hol politieke belofte.

Verder is Marx van mening dat die NGV slegs gebruik word om politieke steun te werf. “Selfs die regering besef dat die NGV nie sal werk nie, en die feit dat hulle nog nie eers ʼn finansiële plan kan opstel nie, bevestig die regering se onbevoegdheid,” sê Marx.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel